Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Stad Kaapstad se versuim om Dieprivier te beskerm is onvergeeflik

Die voortgesette omgewingsagteruitgang van die Dieprivier langs Malibongwe-rylaan by Dunoon toon duidelik dat die DA-beheerde Stad Kaapstad se pogings om onwettige storting in en om vleilandgebiede te bekamp, misluk en buite beheer is.

Die VF Plus en inwoners het reeds talle klagtes oor die storting van huishoudelike afval, bourommel en ander vullis in hierdie sensitiewe rivierstelsel ingedien sonder enige sukses.

Hierdie besoedeling bedreig ’n belangrike ekologiese korridor wat deel vorm van die groter Dieprivier-opvangsgebied en wat in die Milnerton-strandmeer uitmond.

Die Dieprivier is ’n sleutelkomponent van die Stad Kaapstad se rehabilitasiepoging vir die Milnerton-strandmeer. Die rivier is deel van ’n groter opvangsgebied en speel ’n rol in biodiversiteit, waterkwaliteit en vloedbeheer. Dit is dus ’n natuurlike stelsel wat die hele stad se omgewing beïnvloed.

Die gebruik van gestorte materiaal om vleilandgebiede op te vul, vernietig biodiversiteit en verhoog die risiko van oorstromings.

Hoewel die Stad al verskeie vragmotors wat by onwettige storting betrokke was, geskut het, bly wetstoepassing sporadies en inkonsekwent.

Nog meer ontstellend is berigte dat persone glo by hierdie onwettige stortingsterreine met knipborde staan, vragmotors koördineer en betalings ontvang voordat afval afgelaai mag word. Indien dit waar is, dui dit nie op lukrake storting nie, maar op ’n georganiseerde en misdadige operasie.

Ernstige vrae wat beantwoord moet word is:

• Wie vind baat by hierdie bedrywighede?
• Wie ontvang die betalings op hierdie terreine?
• Onder watter gesag gaan hierdie bedrywighede voort?
• Waarom is hierdie beweerde bedrywighede nog nie beslissend gestop nie?

Die VF Plus vra vir strenger wetstoepassing en groter aanspreeklikheid in die stryd teen onwettige storting.

Die party stel voor dat vragmotor-eienaars aanspreeklik gehou word wanneer hul voertuie vir sulke oortredings gebruik word, met maatreëls soos beduidende boetes, ‘n swartlys vir munisipale kontrakte, opskorting van permitte en permanente beslaglegging van voertuie wat herhaaldelik oortree.

Verder word daar aangedring op die instelling van deurlopende beheer en toesig by bekende brandpunte, verhoogde sigbare patrollies, die instelling van ‘n beloningstelsel vir bruikbare wenke van die publiek, asook die uitbreiding van toegang tot bekostigbare en gerieflike afvalverwyderingsgeriewe om die probleem meer effektief aan te pak.

Die Dieprivier is ’n openbare bate en nie ’n stortingsterrein nie. Beslissende optrede is onmiddellik nodig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.