Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Goeie regering onder ANC-bewind ‘n hersenskim

Die VF Plus het vandag in sy repliek op die Noordwes-premier, Lazarus Mokgotsi, se jaarlikse provinsiale rede beklemtoon dat munisipale dienste die grondslag vorm van dienslewering aan die inwoners van Noordwes

As munisipale dienste in duie stort, skep dit ‘n wanfunksionele provinsie en ‘n mislukte regering.

Alhoewel Mokgotsi aangekondig het dat 2026 die jaar van “ferm aksie vir die herstel van plaaslike regering en ekonomiese transformasie” is, is daar min hoop dat dit onder ‘n ANC-regering kan realiseer.

Die premier het gemeld dat die Noordwes-regering artikel 106-ondersoeke sal instel na korrupsie en wanbestuur in munisipaliteite in die provinsie. Sulke ondersoeke en gevolglike verslae het egter tot op hede weinig tot geen positiewe resultate nie opgelewer.

‘n Regeringsverslag oor die wanbestuur en korrupsie in die Madibeng-plaaslike munisipaliteit is reeds op 15 November 2025 gepubliseer

Ten spyte van die feit dat ernstige ongerymdhede in aankope, die duplisering van fakture, onreëlmatige aanstellings en die betaling van groot bedrae na rekeninge oopgevlek is, het geen optrede teen die skuldiges gevolg nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat die premier bekend maak hoeveel, en teen wie, dissiplinêre stappe ingestel is asook die aantal strafregtelike klagte wat ingedien is op sterkte van die Madibeng-verslag.

Voorts het Mokgotsi groot gewag gemaak van miljarde rand wat begroot is vir onder meer waterprojekte in Noordwes.

Die ouditeur-generaal (OG) bevestig ook dat daar nie meer vertroue in waterprojekte is nie met haar gekwalifiseerde bevindings teen 82% van hierdie projekte. Altesame 56% van die projekte is ook met tot 32 maande vertraag voordat dit voltooi is.

Hierdie stand van sake dui op ‘n sistemiese regeringsprobleem. Swak beplanning, swak aankopebestuur, swak kontrakbestuur en geen opvolgonderhoud wat gedoen word op nuwe infrastruktuuraanlegte nie.

Die VF Plus het uitgewys dat die situasie in Noordwes nie sal verbeter sonder sterk optrede teen korrupsie en lakse finansiële bestuur nie.

Belastingbetalers is sat daarvoor om korrupsie te finansier en die nie-betalers van diensterekeninge te subsidieer.

Die herhaalde aanstelling van kontrakteurs wat minderwaardige diens lewer en nie hul kontraktuele verpligtinge nakom nie moet ook onmiddellik gestaak word. Miljarde rand is al vermors op onvoltooide projekte as gevolg van hierdie aanstellings.

Dit is ook noodsaaklik dat amptenare en politici verantwoordbaar gehou word vir onreëlmatighede en korrupsie in hul geledere.

Die opstel en publikasie van ondersoekverslae het geen waarde sonder dissiplinêre, strafregtelike of siviele vervolging nie.

Die stand van Noordwes bevestig dat goeie regering onder ANC-bewind ‘n hersenskim sal bly.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.