Die aanstelling van Arthur Fraser as die nuwe direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap is ‘n bewys dat president Jacob Zuma steeds probeer om persoonlike lojaliste in strategiese posisies aan te stel, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Staatsveiligheid.
Dr. Groenewald sê dit is bekend dat Fraser na bewering ‘n groot rol gespeel het in die sogenaamde bandopname-spioenasiesage wat daartoe gelei het dat pres. Zuma nie vervolg is op 783 aanklagte teen hom nie.
“Daar is reeds ‘n probleem in die Staatsveiligheidsagentskap deurdat hy meer fokus op Zuma se opponente in politieke verband as om sy werk te doen om die land te beveilig.
“’n Goeie bewys hiervan is die geskil wat ontstaan het oor die moontlikheid van Isis-aanvalle in die land nadat Amerika gewaarsku het dat sulke terreuraanvalle wel moontlik is in Suid-Afrika.
“Selfs as gekyk word na xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika en die vernietiging van eiendom met aanloop tot die afgelope verkiesing is dit duidelik dat die Staatsveiligheidsagentskap nie sy werk gedoen het nie en onkant betrap is deur die skielike uitbarsting van geweld.
“Die VF Plus se standpunt is dat die Staatsveiligheidsagentskap Suid-Afrika se veiligheid as ‘n eerste prioriteit moet stel, en nie die behoud van pres. Zuma in sy amp nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403