Suid-Afrika se staatsbeheerde ondernemings laat veel te wense oor en dien as bewys dat die staat hom nie moet inmeng in die ekonomie nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings.
Adv. Alberts het gister met die begrotingsposdebat vir die departement van openbare ondernemings gesê daar is velerlei redes vir die mislukkings van ondernemings soos die SAL, Transnet en Eskom.
“Alexkor is ‘n bewys dat die ANC se idee van die skep en bedryf van ‘n suksesvolle mynmaatskappy bloot ‘n hersenskim is. Alexkor was nie in staat om enige wins te wys tot herkapitalisasie in 2012/13 nie. Die vraag is of die wins volhoubaar is?
“Daar is ook vrae rondom die regering se beherende aandeel in die vennootskap tussen Alexkor en die Richtersveld-gemeenskap.
“Die grond behoort immers aan die Eerste Nasie en daarom moes hulle eerder in staat gestel gewees het om ‘n privaat-maatskappy aan te stel wat hulle regte meer effektief sou kon ontgin. Die regering moet ag slaan op sy internasionale pligte rondom die Eerste Nasies in Suid-Afrika.
“Die belangrikheid van Eskom vir die land se ekonomie behoort daarvoor te sorg dat die minister en haar departement als in hul vermoë sal doen om seker te maak Kusile en Medupe raak op tyd operasioneel.
“Aanhoudende vertragings het reeds hier tot projekvertragings gelei en ‘n groot rol gespeel in die deurlopende de-industrialisering in Suid-Afrika wat die regering se eie industriële beleids-aksieplan ondermyn.
“Dit is belangrik vir die land dat nuwe kragsentrales betyds gelewer word, dat Eskom behoorlike onderhoudswerk aan die sentrales en die verspreidingsnetwerk doen en dat die gehalte en prys van steenkool wat aangekoop word nie uitsluitlik deur SEB bepaal word nie.
“Die SAL is tans besig met ‘n omkeer-strategie, maar die feit is dat nasionale lugrederye wêreldwyd eenvoudig nie winsgewend is nie. Die SAL se bedryfskoste is te hoog en die belastingbetaler raak moeg daarvoor om die instansie uit te help.
“Die regering wil, ten spyte van oproepe tot privatisering, dit nie oorweeg nie. Die antwoord lê straks iewers in die middel waar die SAL toegelaat kan word om ten dele te privatiseer soos Telkom. Privaat-belegging en –bestuur binne ‘n publieke-private vennootskap behoort die werklike omdraai te bewerkstellig.
“Daar moet ook deeglik kennis geneem word van die groot uitdagings voor Transnet. Die roekelose bestuur van sy twee pensioenfondse het nou gelei tot die grootste klasaksie-eis in die land se geskiedenis – ‘n eis van sowat R85 miljard teen Transnet en die regering. Die saak begin Maandag.
“Indien die eis slaag sal Transnet se kredietgradering gewis die sogenaamde ‘junk-status’ bereik en sal dit negatief inwerk op die regering se krediet-status.
“Dit sal Transnet se uitbreidingsplanne in die wiele ry en die VF Plus raai die minister aan om voorkomend op te tree en met die eisers op ‘n billike basis te skik aangesien die saak die regering groot skade kan berokken,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 416 5403