Na jare se gesloer wat selfs in die hof gedraai het, lyk dit steeds nie of die regering die Taalwet vanjaar in werking gaan stel nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus en die party se hoofwoordvoerder oor kuns en kultuur.
Dr. Mulder het vandag met die begrotingsposdebat vir die department van kuns en kultuur ook gesê hy het nou reeds bedenkinge oor die nuwe uitvoerende hoof van die Pan–Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) aangesien die pos wat geadverteer is, verskeie vereistes oor bestuurs- en ander vaardighede beklemtoon, maar niks oor taalvaardigheid nie.
“Ek sou iemand in die pos wou sien wat sensitief is oor taal, wat sterk voel oor taal en wat die werk vanaf daardie vertrekpunt kan doen,” het dr. Mulder gesê.
Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale is reeds in Oktober 2012 in die parlement goedgekeur en moet onder meer veeltaligheid bevorder en seker maak dat die publiek deur die staat bedien word in die amptelike taal van hul keuse.
Volgens dr. Mulder sukkel Suid-Afrika se regering egter steeds om die regte resep te vind vir nasiebou waarvan daar hoofsaaklik twee modelle aangetref word: Een is die Amerikaanse smeltkroesmodel waar net een Engelssprekende nasie gebou word terwyl die taal en kulture van die ander vernietig word.
Die tweede model is een waarin diversiteit erken word en almal tuis voel. Voorbeelde hiervan sal in lande soos Switserland en selfs Ethiopië aangetref word.
“In Suid-Afrika word al hoe meer wegbeweeg van laasgenoemde model en die eerste model word al hoe meer nagevolg waar taal en kultuur nie belangrik is nie.
“Ons moes 19 jaar wag vir die Taalwet wat deur die Grondwet verplig word. Dit was ‘n lang proses om dit aanvaar te kry en ‘n hofgeding was nodig om dit te laat implementeer. In hierdie stadium lyk die mikdatum hiervoor na 1 November, maar ek wil nou al voorspel dat dit weens ‘n wilsgebrek nie gaan gebeur nie,” het dr. Mulder gesê.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 083 419 5403