Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staat se salarisrekening groei buitensporig

In 1994 was die staat se salarisrekening slegs 5% van sy totale uitgawes. Dit het nou toegeneem tot meer as 40% wat totaal buitensporig is, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met die begrotingsdebat van die departement van staatsdiens en administrasie gesê dit is wel die staat se plig om werk te skep, maar om die staatsdiens daarvoor te gebruik, is ‘n totaal verkeerde benadering.

“Die VF Plus se siening is dat die private sektor gehelp moet word om werk te skep en die ekonomie te laat groei. Dit gebeur nie. Werk kan nie geskep word deur die staatsdiens aan te hou vergroot nie. Dit is ‘n uiters ongesonde situasie.

“Ewe kommerwekkend is dat die feit dat die nasionale tesourie se aankope-afdeling gevind het dat daar 12 000 dooie mense op die register van maatskappye is wat sake met die staat doen. Dit is korrupte amptenare wat valse maatskappye met die oorledenes se besonderhede stig om kontrakte te bekom.

“Meer kommerwekkend is dat dieselfde kantoor gevind het dat daar 14 000 staatsamptenare is wat dien as direkteurs van maatskappye wat kontrakte met die staat het.

“Dit kan nie toegelaat word dat ‘n staatsamptenaar met die staat sake doen nie. ‘n Staatsamptenaar moet ‘n billike salaris verdien, en hy moet die publiek en die land dien. Hulle kan nie hul posisie misbruik om kontrakte van die staat te bekom nie.

“Dieselfde kantoor het ook gevind dat bedrog en kunsmatige prysaanpassings die staat 40% of R600 miljard aan goedere en dienste gekos het in 2016. ‘n Goeie voorbeeld is Nkandla waar meer as R262 miljoen bestee is terwyl daar nie waarde van meer as R50 miljoen gevind sal word nie.

“Iemand het egter daarvoor betaal. Dit is waar die geld heengaan. Dit is waar korrupsie in Suid-Afrika vandaan kom,” het dr. Mulder gesê.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.