Dieselfde probleme jaar na jaar. Dieselfde raad en advies. Dieselfde mislukkings. Dit is die hartseer-verhaal van basiese onderwys in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.
Adv. Alberts het vandag met die begrotingstem van die departement van basiese onderwys gesê die kreeftegang in basiese onderwys ontneem die land se jeug van ‘n leefbare toekoms en sal daartoe lei dat populistiese politici hulle bloot as kanonvoer sal gebruik.
Hy sê die land sal ekonomies nie vooruit gaan solank as wat wiskunde en wetenskap progressief agteruitgaan nie. Dit terwyl die land se groot aantal jeugdiges juis as demografiese kapitaal aangewend kan word vir ‘n jong en dinamiese werksmag terwyl ontwikkelde lande se werksmag al hoe ouer raak.
“Die jeug moet waak daarteen om nie verlei te word deur populistiese leiers wat aan hulle ‘n Utopia beloof maar dan ‘n Zimbabwe gee nie.
“Baie van die departement se probleme lê by provinsiale LUK’s (lede van uitvoerende komitees) wat nie die minister se sentimente oor basiese onderwys deel nie. Die minister het met vorige begrotingsdebatte sterk standpunte ingeneem ten gunste van Afrikaanse skole, moedertaalonderrig en die noodsaaklikheid van meer skole.
“Ons wil glo dit is steeds haar standpunt. Meer skole moet gebou word waar mense woon en die skole moet voorsiening maak vir moedertaal-onderrig. Ongelukkig stem die provinsiale ministers nie daarmee saam nie.
“Ons vind dat die oprig van skole in baie provinsies, soos Gauteng, nie ‘n prioriteit is nie. Die ironie is dat terwyl daar bestaande skoolgeboue leeg staan, Afrikaanse skole deur die LUR van Gauteng gedwing word om anderstalige leerlinge in te neem.
“Wanneer hierdie soort optrede plaasvind weet mens dat dit met politieke motiewe gebeur en niks te make het met die skep van regverdige geleenthede vir leerlinge nie. LUR Panyaza Lesufi is so daarop gesteld om witmense as rassiste uit te beeld dat hy selfs ‘n kleuterskool intimideer en sy ondersteuners per Twitter oproep om in massa daaraan deel te neem, terwyl die sogenaamde diskriminasie wat glo plaasgevind het, vals is.
“Hierdie gretigheid tot skuldigverklaring van witmense in plaas daarvan om skole te bou en bestaande leë geboue te gebruik, is duidelik deel van ‘n plan om minderhede te demoniseer. Ander minderhede, soos die Afrikaanse bruin gemeenskap, is ook baie bekommerd.
“In Davidsonville word ‘n Engelssprekende hoof by ‘n bruin Afrikaanse skool aangestel met gewelddadige gevolge. Die bruin gemeenskap se geduld is op en die minister moet daarvan kennis neem.
“De VF Plus vra die minister weer om haar te verbind tot moedertaalonderrig, die bou van skole en die benutting van leë skole, en dat sy provinsies sal aansê om dit te steun sonder benadeling van minderhede,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403