fbpx
Vryheidsfront Plus

Staat se plan om staatsdienspensioene te gebruik om SAL te red, stuur af op nog ‘n Transnet-ramp

Die moontlikheid dat die staatsdiens se pensioenfonds gebruik kan word om SAL uit sy wanbestuur-bankrotskap te red deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) as ‘n sakevennoot te betrek, is totaal onaanvaarbaar en moet ten alle koste gekeer word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts sê dit stuur af op presies dieselfde situasie waar Transnet se pensioenfondse gestroop is om die entiteit van ondergang te red en wat duisende Transnet-pensioenarisse in haglike toestande van armoede en ellende laat verval het.

Mnr. Dondo Mogajane, die waarnemende direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het die moontlikheid gister genoem met ‘n sitting van die parlement se portefeuljekomitee oor finansies. Dit volg op minister Malusi Gigaba se uitlating verlede week dat ‘n vennoot vir die SAL nie noodwendig uit die private sektor hoef te kom nie.

“Die regering wil nou presies dieselfde doen as wat by Transnet gebeur het. Hierdie uitlatings moet alle rooi ligte laat flikker. Dit is ‘n gekkespul en sal niks anders wees nie as stroping op ‘n reuse skaal.

“Die regering het ‘n reuse bate soos die SAL tot oor die afgrond wanbestuur, en wil nou sy eie werkers se geld gebruik om in hierdie oënskynlik bodemlose put te gooi wat al male sonder tal sonder sukses gehelp moes word met miljarde rande.

“Die VF Plus glo so ‘n stap saal roekeloos en onwettig wees en het reeds met regslui gepraat wat bereid is om onafhanklik op te tree om te keer dat dié planne uitgevoer word.

“Die regering kan nie toegelaat word om hierdie fonds te plunder nie. Die gevolge sal tragies wees. Daar sal ‘n eksterne private vennoot gevind moet word om in die SAL te belê om die redery weer op die been te kry,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.