fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC sleep opsetlik voete met grondhervorming vir politieke gewin

Die ANC-regering sloer opsetlik en vir eie politieke gewin met grondhervorming. ‘n Bewys hiervan is dat daar in byna twintig jaar sedert die proses begin het, steeds eise van 1998 is wat nog nie afgehandel is nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê die ANC gebruik grondhervorming as ‘n politieke speelbal.

“Dit is vir die ANC belangrik dat sy president moet rondgaan en vir die mense sê hulle kan nie grond kry nie want die witmense het dit gesteel en daarom moet dit eers onteien word sonder vergoeding. Dit is ‘n gevaarlike politieke speletjie want dit plaas voedselsekerheid en sekuriteit op die spel.

“Dit is maklik om te sê wittes besit 80 persent van grond in Suid-Afrika. Die minister moet sê of dit waar is.

“Ek vra reeds sedert 2004 vir ‘n oudit oor grondbesit. In 2015 het die ANC in sy eie beleidsdokumente gesê die tweede fase van die oudit sal beskikbaar wees teen September 2015. Hierdie tweede fase is baie belangrik, want dit sal die ras en geslag van grondeienaars aantoon.

“Nou is ons reeds in 2017. Waarom word dit nie bekend gemaak nie? Waarom neem dit so lank om die oudit te finaliseer? Die antwoord is dat dit die ANC pas. Die regering kan nou aan mense sê die beloftes wat oor grond gemaak is, sal nagekom word sodra die struikelblokke uit die weg geruim is.

“Die regering moet nou die grond in sy besit aan die mense gee. Tot nou toe is net een uit elke tien titelaktes van grond wat deur grondhervorming oorgedra is, aan die nuwe eienaars oorhandig. Negentig persent van die titelaktes is by die regering. Die staat besit die grond.

“Waarom dra die regering nie die titelaktes aan die nuwe eienaars oor nie? Dit word nie gedoen nie omdat dit die ANC se politieke agenda pas.

“Die minister het gesê hy het van Zimbabwe geleer om grond nie net te gryp nie en dat dit wettiglik gedoen sal word. Maar die ANC is tans besig om grondgryp deur die staat te wettig.

“Die regulasies wat die Waardeerder Generaal (WG) hieroor gepubliseer het, maak dit duidelik dat eienaars minder as die markwaarde, en selfs tot net die helfte daarvan, kan kry.

“Ek wil aan die mense van Suid-Afrika sê om na hierdie regulasies te kyk. Hulle moenie dink dit is net landbougrond wat ter sprake is nie. Dit raak alle eiendom in Suid-Afrika. As die nuwe Onteieningswet in plek is, gaan die regulasies van die WG op almal se eiendom van toepassing wees.

“Dit sluit ook ontroerende eiendom in. Hierdie regulasies is die rooi vlag wat vir grondeienaars sê om wakker te skrik en hul besware teen die wet in te dien,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.