Die VF Plus gaan op hoogste vlak versoek dat ondersoek gedoen word na verdere, omvangryke bedrog in die multimiljard rand wapentransaksie wat nou in ‘n oudit van die department van handel en nywerheid aan die lig gekom het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Luidens ‘n mediaberig die afgelope naweek was die teenbeleggingsprogramme wat deel van die wapentransaksie met buitelandse wapenmaatskappye gevorm het ‘n foefie en het dit niks van die beloofde ekonomiese voordele vir die land en sy mense ingehou nie.
Daaruit blyk dit dat feitlik geen van die werksgeleenthede en beleggings wat deur die regering beloof is, gerealiseer het nie en dat die regering oënskynlik toegelaat het dat dié maatskappye miljarde afskryf wat hulle Suid-Afrika geskuld het.
“Dit is niks anders nie as bedrog nie. Ek dien in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel-en nywerheid en sal die saak daar verder voer en daarop aandring dat dit volledig ondersoek word.
“Die VF Plus gaan konsulteer met sy regslui, en sal, soos ons gedoen het vir die Transnet-pensioenarisse in ‘n klasaksie van R80 miljard wat teen Transnet aanhangig gemaak is, oorweeg om ‘n soortgelyke klasaksie teen die staat in te stel namens elke inwoner van Suid-Afrika.
“Dit is verstommend dat massiewe korrupsie en bedrog ontbloot word by haas elke transaksie waarby die ANC-regering betrokke is.
“In hierdie geval kom dit neer op bedrog teen die inwoners van Suid-Afrika en direkte sabotering van die land se ekonomie. Uit die oudit blyk dit dat net 3 815 werksgeleenthede gerealiseer het teenoor ‘n beloofde 56 531.
“Boonop is die oudit blykbaar net in 40 van 121 programme gedoen. Die VF Plus dring daarop aan dat ‘n oudit van al die programme gedoen word sodat die volledige kan wurms blootgelê kan word.
“Dit is skokkend dat belastingbetalers, selfs die wat vir die ANC stem, so mislei en uitgebuit kan word deur hul eie regering,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403