fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

Omvang van korrupsie en bedrog in ANC-beheerde munisipaliteite weer belig in verslae voor parlement

Die omvang van munisipale korrupsie en bedrog onder verál ANC-beheerde munisipaliteite landwyd, is vandag weer belig tydens ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).

Die Valke, Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het bekend gemaak dat daar tans 647 sake van bedrog, korrupsie en geldwassery in munisipaliteite ondersoek word. Honderdmiljoene rand se belastinggeld is ter sprake.

ANC-beheerde munisipaliteite in verál die Oos Kaap (46 sake), die Vrystaat (60 sake) en Noordwes (64 sake), ding skynbaar mee om die titel vir die provinsie met die mees korrupte munisipaliteite.

Dit is skreiend dat hierdie, meesal plattelandse munisipaliteite, skynbaar deur ANC-kaders geteiken word om hulself te verryk ten spyte daarvan dat inwoners reeds gebuk gaan onder ʼn verval in dienslewering weens onder meer ʼn lae inkomste.

Só is munisipaliteite soos byvoorbeeld Maluti-a-Phofung (voormalige Qwaqwa) in die Vrystaat (13 sake), en Matlosana (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) in Noordwes (14 sake), reeds byna oor die afgrond gestroop van munisipale fondse en bates onder die ANC. Dit is geen wonder dat hierdie munisipaliteite gekenmerk word deur ʼn verval in dienslewering en infrastruktuur nie.

Dit blyk ook uit die voorleggings dat hierdie stand van sake slegs die punt van die ysberg is.

Dit kan gesien word deurdat daar byvoorbeeld tans net een saak van korrupsie in ʼn munisipaliteit soos Ditsobotla (Lichtenburg en Coligny) in Noordwes ondersoek word. Dít terwyl dit bekend is dat dienslewering in die munisipaliteit reeds vir jare verlam word deur ʼn chaoties-korrupte ANC-administrasie waar ANC-faksies soms gewelddadig meeding om hul hande op munisipale fondse te lê.

Die feit dat die ministers van justisie, Ronald Lamola, polisie, Bheki Cele en Cogta, Thembi Nkadimeng, asook hul adjunkte, nie tydens vandag se vergadering teenwoordig was nie, spreek boekdele.

Dit dui op óf ʼn staat van ontkenning, óf is tekenend van ʼn ANC-regering wat weier om verantwoordelikheid te neem vir die verval en korrupsie wat onder ANC-beheer basiese dienslewering aan Suid-Afrikaners vernietig.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.