Die VF Plus voer dekades reeds ʼn stryd teen diskriminerende beleid en wette van die ANC-regering wat op ras gegrond is en verwelkom die feit dat daar toenemend oor ʼn wye spektrum, wat politieke partye en burgerregte-organisasies insluit, hande gevat word oor die aangeleentheid.
Die party het vandag ook onderneem om hande te vat met die Kaapse Forum en Solidariteit en steun hul versoek dat die indiensnemingsregulasies ingevolge die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming onderwerp word aan ʼn spesiale parlementêre debat met die doel om dit in geheel stop te sit.
Die VF Plus was teenwoordig toe die Kaapse Forum dié versoek vanoggend by die parlement in Kaapstad aan ʼn verteenwoordiger van die parlement oorhandig het. Luidens die versoekskrif is die nuwe wet en regulasies ongrondwetlik en irrasioneel.
Dit sluit aan by ʼn resolusie teen die wet wat verlede week aanvaar is deur politieke partye waaronder die VF Plus, sakelui, vakbonde, landbou-organisasies, onderwysorganisasies en talle ander burgerlike organisasies wat miljoene Suid-Afrikaners verteenwoordig.
Die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming sal streng kwotas vir die werkplek daarstel wat in geheel onderhewig is aan die diskresie van die ANC.
Dié wet is verteenwoordigend van alle wette en regulasies wat regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) rig waarteen die VF Plus sedert sy ontstaan gestry het. Die gevolge van hierdie beleid en wette is presies die teenoorgestelde van wat beoog word met regstellende optrede en is ʼn groot rede vir die ekonomiese verval en agteruitgang in die land.
Hierdie beleid van die ANC het net meer onregte geskep terwyl slegs enkele persone met direkte ANC-bande bevoordeel is.
Die VF Plus sal aanhou om die stryd in die parlement te voer teen die ongeregtighede wat die ANC geskep het en glo dit sal opbou tot ʼn grootse poging van politieke party en die burgery om in aanstaande jaar se verkiesing van die ANC ontslae te raak.