Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sol Plaatje-speaker ignoreer mosie: VF Plus verwys dit formeel na LUR en waarsku oor regsgevolge

Die VF Plus neem met ernstige kommer kennis van die speaker van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, Dipuo Peters, se doelbewuste versuim om ’n mosie wat die VF Plus volgens prosedure ingedien het, ter tafel te neem.

Die mosie gaan oor die afdanking van die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, die hofuitspraak teen die afdanking en die raad se verontagsaming daarvan

Sy ignoreer dit steeds, ondanks ’n bindende skriftelike aanmaning ingevolge die raad se staande reëls.

Hierdie optrede is nie bloot prosedurele versuim nie, maar ernstige en onwettige belemmering van die raad se grondwetlike oorsigrol.

Die speaker is wetlik verplig om mosies wat behoorlik ingedien is, te laat dien en demokratiese debat te bemiddel. Die doelbewuste versuim om dit te doen, vorm prima facie ’n oortreding van die gedragskode vir raadslede, insluitend skedule 1, Items 2, 3 en 5 van die Munisipale Stelselswet, en kom neer op die misbruik van openbare mag.

Hierdie optrede is ernstig in die lig van die hooggeregshof se onlangse uitspraak in Matlala v Sol Plaatje-plaaslike-munisipaliteit, waarin die speaker se optrede reeds as onregmatig, kwaadwillig en ’n misbruik van mag bevind is, met persoonlike kostebevele teen haar.

Gevolglik het die VF Plus nou formeel geëis dat die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Cogta), mnr Bentley Vass, ingevolge artikels 14 en 106 van die Munisipale Stelselswet ’n formele ondersoek gelas.

Die bepalings plaas ’n bindende, statutêre verpligting op die LUR om op te tree waar daar prima facie bewyse van ernstige wangedrag en ‘n skending van die gedragskode bestaan.

Die speaker se versuim om haar wetlike pligte na te kom en moontlike versuim deur die LUR om sy statutêre bevoegdhede uit te oefen, kan verdere regsgevolge inhou, insluitend verwysing na die openbare beskermer (OB) vir ondersoek.

Geen openbare ampsdraer staan verhewe bo die wet nie. Die VF Plus bly verbind tot die beskerming van die oppergesag van die reg en sal beskikbare meganismes gebruik om aanspreeklikheid en die integriteit van die raad te verseker.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.