Die VF Plus verwag dat die premier van die Vrystaat, MaQueen Mathae, tydens die provinsiale openingsrede die provinsie se werklike krisisse direk sal aanspreek en nie nog algemene verkiesingsretoriek en leë beloftes maak nie.
Die Vrystaat het nou meer dade en minder woorde nodig.
Die fokus moet verskuif na dringende ingrypings wat inwoners se daaglikse lewe raak. Infrastruktuur moet die eerste prioriteit wees, met duidelike tydlyne en befondsingsplanne vir die herstel en instandhouding van paaie, hospitale, klinieke, asook betroubare water- en sanitasie-infrastruktuur.
Die agteruitgang van hierdie dienste raak ekonomiese groei, landbou, veiligheid en gesondheidsorg direk.
Die tyd vir onsekerheid is verby. Die provinsiale regering moet nou duidelik antwoord hoe die agt uit 19 plaaslike munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, finansieel en administratief herstel gaan word en hoe aanspreeklikheid toegepas gaan word teen kaders wat hierdie verval veroorsaak het.
In baie gevalle het toestande sedert administrasie verder versleg en indien hierdie tendens voortduur, loop Vrystaatse munisipaliteite die risiko om soos domino’s onder administrasie te val, sonder enige vooruitsig van verbetering.
Die voortgesette verval van munisipaliteite plaas gemeenskappe reeds onder enorme druk. Nou word die provinsie boonop deur die bek-en-klouseerkrisis getref – ʼn situasie wat nie langer met vae beloftes bestuur kan word nie.
Die groot vraag bly wanneer voldoende entstof die Vrystaat gaan bereik. Die provinsiale regering moet dringend verduidelik hoe verspreiding versnel gaan word en hoe boere prakties ondersteun gaan word.
Bek-en-klouseer raak nie net boere nie, maar ook voedselsekerheid, werksgeleenthede, plaaslike ekonomieë en Suid-Afrika se uitvoermarkte.
Die VF Plus verwag werklike oplossings en nie net nog beloftes nie.


