Alhoewel die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Ermelo, Chrissiesmeer, Breyten, Davel en Lothair) se aanvaarding van ʼn nuwe verordening oor die beheer van rondloperdiere ʼn goeie beginpunt is, spreek dit nie al die kernprobleme aan wat rondloperdiere vir die gemeenskap inhou nie.
Die verordening, wat op 28 November 2025 in die Staatskoerant gepubliseer is, volg ná volgehoue druk van die VF Plus sedert 2022.
Die party het herhaaldelik die ernstige gevare en nalatigheid rondom rondloperdiere onder die munisipale raad se aandag gebring.
In ʼn skrywe van 8 November 2025 het die VF Plus ook Mpumalanga se departement van landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake en die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake ingelig oor die toenemende risiko’s wat rondloperdiere vir padveiligheid, landbou, biosekuriteit en gemeenskapsveiligheid inhou.
Die huidige verordening verskaf tans nie ʼn duidelike kostestruktuur vir die aanhouding van diere nie, stel geen bindende tydperke vir onopgeëiste diere nie en maak onvoldoende voorsiening vir biosekuriteit, kwarantyn en siektetoetsing.
Daar is ook geen praktiese riglyne of tydlyne vir die vestiging van ʼn funksionele skut nie.
Sonder hierdie elemente bly die verordening ʼn papieroefening wat nie die werklike probleme oplos nie.
Die VF Plus het reeds ʼn skrywe met gedetailleerde voorstelle hieroor gestuur aan die speaker van die raad, Ntombifuthi Xaba, sowel as die munisipale bestuurder, Maqhawe Kunene.
Hierdie voorstelle kan help om die tekortkominge reg te stel, die verordening meer doeltreffend te maak en die munisipaliteit teen toekomstige regs- en aanspreeklikheidsrisiko’s te beskerm.
Verder het die VF Plus ʼn volledige aksieplan met duidelike tydlyne opgestel vir die oprigting en bedryf van ʼn volwaardige skut, wat tydens die volgende raadsitting voorgelê sal word.
Die VF Plus vra ook waarom die ANC-beheerde Msukaligwa-munisipaliteit eers nou optree en juis nou dat die bek-en-klouseerkrisis die land tref.
Hierdie trae en reaktiewe benadering is volgens die VF Plus tipies van ʼn regerende party wat versuim om wet en orde konsekwent te handhaaf en vooruit te beplan.
Ten spyte hiervan sal die VF Plus aanhou druk toepas om te verseker dat die landbougemeenskap sowel as alle inwoners van Msukaligwa beskerm word teen die gevare, ekonomiese verliese en ongerief wat rondloperdiere veroorsaak.


