Die Ekurhuleni-metro het binne 24 uur op die VF Plus se dringende versoek gereageer en die Weltevreden-stortingsterrein in Brakpan weer vir die publiek oopgestel.
Dié terrein was vir sowat ʼn week gesluit weens veiligheidsrisiko’s, waarna inwoners die VF Plus genader het om hulp.
Die party het Dinsdagoggend ʼn brief oorhandig aan die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, met die versoek om onmiddellik in te gryp.
Die metro het positief gereageer en die terrein heropen met die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) wat ekstra sekuriteit verskaf om orde te handhaaf en inwoners se veiligheid te beskerm.
Ten spyte van hierdie korttermyn-sukses bly die terrein kwesbaar vir herhalende probleme.
Onvoldoende toegangsbeheer en swak omheining maak dit maklik vir onwettige toegang en aktiwiteite. Daar is ook ʼn ernstige risiko dat zama-zama’s wat onder die staalstruktuur van die hoogspanningskragdrade grawe, die stabiliteit daarvan kan ondermyn en grootskaalse kragonderbrekings in omliggende woongebiede kan veroorsaak.
Gereelde gewelddadige botsings tussen zama-zama’s en plastiekversamelaars het die terrein verder onveilig gemaak en noodsaak die EMPD se voortdurende ingryping.
Hierdie probleme het inwoners ook gedwing om alternatiewe stortingsterreine te gebruik en het onwettige storting in die area aangemoedig.
Die VF Plus sal volgehoue druk op die burgemeester en metro-administrasie plaas om behoorlike omheining en toegangsbeheer te implementeer, die kragstrukture te stabiliseer en te beveilig en langtermyn-maatreëls in te stel om onwettige mynbou en chaos te voorkom.
Inwoners verdien ʼn veilige, toeganklike en goed bestuurde afvalfasiliteit en nie tydelike heropenings wat net vir ʼn kort rukkie verligting bring nie.
Die VF Plus sal aanhou om te verseker dat die Weltevreden-stortingsterrein nie net oop bly nie, maar ook volhoubaar en veilig bestuur word.


