Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sol Plaatje-raad word mislei oor grond in Southridge – verlaagde eiendomswaardes sal volg

’n Gesamentlike vergadering van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit se menslike nedersettingskomitee en Spelum (die komitee vir ruimtelike ontwikkeling en beplanning) is tydens die Julie-vergadering ingelig dat leë erwe in Southridge teen groot afslag aan die Phomolong 109-groep verkoop gaan word.

Die munisipaliteit se hoof stadsbeplanner, mnr. Ngoako Modiba, het aan die komitees verklaar dat dié transaksies deur ’n munisipale verordening gewettig word, maar die VF Plus betwis sy vertolking.

“Phomolong 109” is ’n groep inwoners wat hulself as voorheen benadeelde inwoners van Kimberley beskryf.

Phomolong is ’n ander woonbuurt in die munisipaliteit. Huishoudings in hierdie groep verdien meer as R22 000 per maand, wat die afsnypunt vir staatsondersteuning in die aankoop van grond is. Hulle maak daarop aanspraak dat leë erwe in Southridge met afslag van tot 60% aan hulle beskikbaar gestel moet word.

In die genoemde voorlegging aan die twee komitees het lede gehoor dat Sol Plaatje reeds verkoopooreenkomste met van die families aangegaan het.

Modiba beweer dat dit volgens Sol Plaatje se beleid op land en ander onroerende kapitale bates (2016) toelaatbaar is.

Klousule 13(1)(F)(i)(ii) van dié beleid bepaal egter dat die toegewing aan ander staatsinstellings gemaak kan word. Dit sluit dus private aankopers uit.

Southridge gaan tans reeds gebuk onder rioollekkasies en paaie wat swak onderhou word.

Verder is huidige inwoners nie in die toekenning van hierdie afslag-erwe geken nie. Dit is juis hulle wat daardeur benadeel sal word omdat eiendomswaardasies die waarde van onlangse transaksies sterk in ag neem. Indien ’n hele aantal erwe nou teen minder as halfprys verkoop word, sal dit die waarde van alle eiendomme in die buurt afwaarts beïnvloed.

Indien die projek deurgevoer word, sal Southridge se onvoldoende infrastruktuur verder belas word, terwyl eiendomswaarde laer as huidige verbandlenings kan daal. Dit alles op grond van ’n betwisbare lees van ’n munisipale beleid.

Dit lyk na ’n geval waar mense wat polities goed geplaas is, ten koste van ander inwoners en die stad as geheel bevoordeel word.

Kimberley verdien beter. ’n Koalisieregering kan volgende jaar in die Noord-Kaap aan bewind gestel word, wat sulke vergrype in ANC-beheerde munisipaliteite kan hokslaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.