Die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, tuiste van Kimberley, die Noord-Kaapse hoofstad en omliggende landelike gebied, gaan reeds sedert 2018 onder krisisbestuur gebuk, en het reeds weer die jaar op die verkeerde voet begin.
Ná diensleweringsbetogings van ongekende omvang in die geskiedenis van Kimberley, is die burgemeester vervang en sowel die munisipale bestuurder as die finansiële hoof van die munisipaliteit, is met volle vergoeding geskors. Sedertdien word in hierdie sleutelampte slegs waargeneem, met die een posbekleër wat die ander opvolg.
Die oud-burgemeester, mnr. Mangaliso Matika, dien tans as adjunk-speaker in die Noord-Kaapse wetgewer.
Die twee topamptenare, onderskeidelik mnr. Goolam Akharwaray en me. Lydia Mahloko, staar klaarblyklik nie verdere optrede in die gesig nie en gaan op die oog af nie terugkeer werk toe voordat hul kontrakte later vanjaar verstryk nie.
Intussen ly Kimberley onder voortdurende krag- en wateronderbrekings. Groot dele van die stad se infrastruktuur is meer as 'n honderd jaar oud en moet sistematies vervang word.
So 'n program is deur die geskorste munisipale bestuurder in werking gestel, maar uitvoering word van die begin af belemmer deur ontydige brekasies. Die kontinuïteit wat vir die deurvoer van so 'n projek noodsaaklik is, ontbreek wanneer die een waarnemende munisipale bestuurder na die ander daarvoor verantwoordelik is.
Onder hierdie omstandighede is dit belangrik dat alle partye in die herstelpoging betrek word. Daarom was die VF Plus verras om op Facebook te verneem dat, soos die berig dit stel, die waarnemende munisipale bestuurder, burgemeester, burgermeesterskomitee, uitvoerende direkteure en partyswepe 'n ope en deurdringende vergadering gehad het oor die kwessies van die dag.
Terwyl die VF Plus nie eens van die vergadering in kennis gestel is nie, toon die foto wat op Facebook geplaas is slegs een direkteur, 'n onvolledige burgemeesterskomitee en slegs die swepe van die DA en EFF saam met die waarnemende munisipale bestuurder en die burgemeester.
Sedert die plasing op 7 Januarie 2021, kon die VF Plus nog geen bevredigende antwoord kry oor waarom dié party nie genooi is nie, of waarom so min direkteure teenwoordig was en waarom middelvlakbestuur glad nie betrek is nie.
Die VF Plus verteenwoordig nie net van die betroubaarste belastingbetalers in die munisipale gebied nie, maar neem ook konstruktief deel aan gesprekke van hierdie aard.
In die lig van die voortslepende krisis in Kimberley, is dit vir die VF Plus duidelik dat die munisipaliteit die jaar op die verkeerde voet begin het. Hopelik gee dit nie die toon vir die res van die jaar aan nie.