Die VF Plus het in die Tshwane-metroraad gewaarsku dat die beplande ontwikkeling van die Sokhulumi-gebied naby Bronkhorstspruit soos in die geïntegreerde ontwikkelingsplan uiteengesit is, nie sonder die daarstelling van behoorlike infrastruktuur en dienslewering kan plaasvind nie.
Die uitbreiding van landbou, die skepping van werksgeleenthede, die voorsiening van behoorlike behuising en gemeenskapsgeriewe soos sportvelde kan wel ‘n positiewe impak hê, mits dit met dissipline, finansiële werklikhede en deeglike dienslewering in werking gestel word.
Die VF Plus steun ontwikkeling wat bestaande plaasgrond beskerm, voedselproduksie versterk en toerisme-moontlikhede ontsluit om werksgeleenthede te skep sodat mense nie na Pretoria hoef te reis om hul brood en botter te verdien nie.
Die volgende belangrike vrae oor die ontwikkeling is nog onbeantwoord:
• Sal die Tshwane-metro in staat wees om water en ‘n werkende riooldiens aan die nuwe ontwikkeling te voorsien, veral gegewe die feit dat beide hierdie punte uitgelig is in ‘n verslag aan die raad
• Hoe gaan nooddienste inwoners vinnig bereik omdat die gebied ver van bestaande dienste is?
• Watter finansieringsplanne is daar om te verseker dat paaie, rioolwerke, elektrisiteit en stormwaterstelsels nie net op papier bestaan nie?
Die inwoners van wyk 105 in Tshwane verdien nie nog ‘n glansryke dokument vol beloftes nie. Tshwane het reeds ‘n lang geskiedenis van geïntegreerde ontwikkelingsplanne en gebiedsplanne wat met groot fanfare bekendgestel word, net om as onvoltooide projekte te eindig.
Die VF Plus eis ‘n deeglike infrastruktuur- en diensleweringsimpakstudie voordat enige ontwikkeling goedgekeur word. Daar moet ook waarborge vir water-, riool-, en kragvoorsiening wees.
Die party dring aan op ʼn openbare deelnameproses waar daar met inwoners, tradisionele leiers en boere vergader word. Die inwoners van Sokhulumi en wyk 105 het resultate nodig, nie nog ‘n verkiesingsveldtog nie.


