Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bek-en-klouseer: Aksie is nodig; minister gaan dit nie reg praat nie

Die VF Plus is versigtig optimisties daaroor dat die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, môre ‘n samehangende Artikel 10-plan vir inenting teen bek-en-klouseer sal bekendmaak, soos die hof hom gelas het om te doen.

Dit is in werklikheid reeds ondenkbaar dat dit hierdie roete moes neem.

Private veeartse in Suid-Afrika het ‘n magdom van kennis en ervaring rakende aansteeklike siektes. Hulle moes die minister se eerste bron van raad en samewerking met die departement van landbou se staatsveeartse gewees het. Ongelukkig het hy nie die hand wat private veeartsnetwerke uitgesteek het, geneem nie.

Dit is ironies dat Steenhuisen herhaaldelik aanvoer dat hy ‘n problematiese departement geërf het en nie dertig jaar se probleme in twee jaar kan oplos nie.

Pleks dat hy die aanbevelings vanuit daardie departement met kundiges in die private sektor kontroleer, het hy oor die afgelope maande ‘n leedvermakerige houding ingeneem deur die regsproses te probeer uitrek. Dit is waarom hy op 28 April vanjaar ‘n bestraffende kostebevel gekry het om die inentingsplan teen môre bekend te maak.

Intussen het Steenhuisen ook bekendgemaak dat hy kundiges in Brasilië oor die siekte geraadpleeg het. Dit is sekerlik in orde om by ander lande wat die siekte reeds suksesvol bestry het, te leer, maar hoekom is hy nie bereid om by kundiges in sy eie land te leer nie? Hulle ken immers die plaaslike omstandighede veel beter en het bygedra tot die bek-en-klouseervrye status wat Suid-Afrika vir dekades geniet het.

Die indruk wat ‘n mens kry, is dat die huidige minister ‘n voorkeur het vir probleme wat hy kan reg praat. Daarom besoek hy graag oorsese markte om toegang vir Suid-Afrikaanse produkte te onderhandel. Dit is ongetwyfeld positief, solank produksie in Suid-Afrika self aan internasionale vereistes voldoen.

‘n Siekte soos bek-en-klouseer laat dit nie reg praat nie. Dit vereis doelgerigte, kundige aanbevelings en die implementering daarvan.

Hierdie siekte was reeds ‘n probleem toe Steenhuisen minister geword het. Met die regte optrede kon hy vandag die held van landbou gewees het, pleks daarvan om deur talle rolspelers geminag te word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.