Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Slaggate mag nie nog lewens eis nie

Daar kan nie toegelaat word dat vervalle paaie en slaggate verdere menselewens eis nie en die onlangse dood van verskeie motoriste is ‘n aanklag teen die ANC-regering op alle vlakke wat geen erg het aan die instandhouding van infrastruktuur nie.

Die VF Plus het vandag die parlement van Suid-Afrika versoek om kennis te neem van die onlangse afsterwe van mnr. Lomon Terreblanche van Edenville in die Vrystaat wat dood is ná ‘n motorongeluk wat veroorsaak is deur 'n slaggat op die R34-pad tussen Edenville en Heilbron in dié provinsie.

In nog ‘n voorval is mnr. Waldo Ferreira, 'n onderwyser van Vrede, asook twee ander persone dood in 'n ongeluk op die R103-pad tussen Vrede en Warden in die Vrystaat. Dié ongeluk is ook deur ‘n slaggat veroorsaak.

Hierdie voorvalle beklemtoon die agteruitgang van paaie in die Vrystaat en ander provinsies wat in so 'n vervalle toestand is dat dit daagliks Suid-Afrikaners hul lewe en lewensbestaan kos.

Die vreedsame protesoptrede hierdie week deur onder andere taxibestuurders en boere in Ficksburg in die Vrystaat wat ingange na die dorp afgesper het in protes teen die toestand van paaie soos die R26 / R70 naby Ficksburg, moet vir die regering ‘n aanduiding wees van ‘n burgerlike versadigingspunt oor die aangeleentheid.

Die mense was dit eens dat paaie in dié provinsie lewensgevaarlik en onrybaar geword het. Dieselfde situasie geld op baie ander plekke in die land waar instandhouding agterweë gelaat is.

Die VF Plus spreek sy medelye uit met die naasbestaandes van mnr. Terblanche en andere wat hul lewe verloor het weens die vervalle paaie van die land.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.