Rustenburg-plaaslike munisipaliteit se pas goedgekeurde begroting is nutteloos indien die munisipaliteit se agterstallige skuld nie dringend ingevorder word nie.
Die begroting van sowat R4.78 miljard vir die 2018/2019-finansiële jaar beslaan ook kapitale projekte van R829 miljoen. Die kapitale investering in munisipale infrastruktuur is nodig, maar die bestaande infrastruktuur moet in stand gehou en sonder verwyl opgeknap word.
Paaie, riool- en waterinfrastruktuur in Rustenburg is in 'n jammerlike toestand en kundigheid en gefokusde bestuur daarvan is nou meer nodig as ooit.
Die algehele onvermoë van die munisipale bestuur en amptenare om hul werk binne die beperkings van die begroting te doen, is 'n verdere bron tot kommer. Die wesenlike verskille tussen die begrote syfers van die vorige finansiële jaar en die werklike invordering en besteding vir dieselfde tydperk bevestig hierdie probleem.
Die ANC-regering het telkemale gewys dat hulle nie daartoe in staat is om behoorlik op plaaslike regeringsvlak te bestuur nie, en Rustenburg is geen uitsondering nie.
Die salarisrekening van sowat R746 miljoen vir die komende boekjaar moet heroorweeg word en die personeelstruktuur van die munisipaliteit moet vaartbelyn gemaak word met die fokus op kwaliteit dienste in stede van werkskepping deur die staat.
Die munisipaliteit is afhanklik van belastingbetalers en dienste moet binne 'n redelike en realistiese begrotingsraamwerk gelewer word.
Kontaknommer: 082 529 3001