Meer as 100 000 mense van regoor Suid-Afrika het hul stem by die VF Plus gevoeg om beswaar aan te teken teen die ANC-regering se beoogde wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Die VF Plus het namens die publiek dié 100 000 beswaarskrifte, asook ‘n amptelike voorlegging van die party, oorhandig aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee wat met die taak belas is om moontlike wysigings aan Artikel 25 te ondersoek en aanbevelings daaroor te maak.
Enige verandering aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal skadelik wees vir die ekonomie van Suid-Afrika en alle Suid-Afrikaners sal sodoende hul reg op eiendom verloor.
Privaat eiendomsreg is ‘n internasionaal erkende basiese mensereg en dit moet deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm word in ooreenstemming met die Verengde Nasies (VN) se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte.
Die VF Plus is van mening dat die proses van grondhervorming in die wiele gery word deur korrupsie en administratiewe onbevoegdheid, en nie deur die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper nie.
Die beswaarskrifte is bekom deur ‘n petisie van die VF Plus wat deel vorm van die party se "Slaan terug SA"- veldtog as daadwerklike poging om die plaaslike en internasionale gemeenskap in te lig oor die bedreiging van eiendomsreg en ander menseregtevergrype in Suid-Afrika.
Die leier van die VF Plus en ander partyverteenwoordigers het as deel van die veldtog in die laaste maande vergaderings op verskeie plekke in Suid-Afrika hieroor toegespreek.
Die leier het België besoek en onder meer met Europese parlementslede vergader en die presidensie van UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) toegespreek.
'n Afvaardiging van die Duitse AfD (Alternative for Germany)-party, het die VF Plus se parlementêre koukus verlede maand besoek as feitesending oor brandpunte soos onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde, en om skakeling tussen die twee partye te bewerkstellig.
Die VF Plus spreek sy dank uit teenoor almal wat sy veldtog steun. Die 100 000 stemme wat die beswaarskrifte verteenwoordig sal ‘n harde boodskap na die regering stuur oor die publiek se teenkanting teen die voorgestelde wysigings aan die Grondwet en die beginsel van onteiening sonder vergoeding.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216