Oorgroeide vakante erwe het huisbrake in Numbipark tydens die afgelope feesseisoen vergemaklik.
Misdadigers kan ná ’n oortreding eenvoudig in die ruie gras verdwyn.
Minstens 32 gevalle van huisbraak is tussen November en Januarie in Numbipark naby Hazyview aangemeld.
Die VF Plus meen dat die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit,Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) gedeeltelik hiervoor aanspreeklik gehou moet word.
Die VF Plus se deurlopende versoeke aan die munisipale parkeraad en plaaslike politieke leierskap bly op dowe ore val.
Numbipark was op sy dag ’n spogbuurt, maar die munisipaliteit se jare lange verwaarlosing van hierdie voorstad het daartoe gelei dat die reserwepaaie só oorgroei is dat groot voertuie die paaie nie kan gebruik nie.
Private vakante erwe en munisipale parke is só toegegroei dat selfs munisipale amptenare nie toegang tot die parke kan verkry nie.
Dit is omdat die ruie plantegroei probleme met die paaie se fondasies veroorsaak het.
In 2022 het die munisipaliteit ‘n besluit goedgekeur wat eienaars van private vakante erwe verplig om die erwe in stand te hou, of ’n boete te kry indien hulle versuim om dit te doen. Dit is duidelik dat dit nie gebeur nie.
Hierdie probleem kom ook voor in ander gebiede binne die munisipaliteit, maar die verwaarlosing en agteruitgang van Hazyview en sy omliggende gebiede is veral kommerwekkend vir inwoners.
Die VF Plus dring daarop aan dat die uitvoerende burgemeester, Sibongile Makushe, dringend moet ingryp.
Belastingbetalers verdien beter as die verwaarlosing wat ’n ernstige bedreiging vir inwoners se veiligheid inhou.