Die skorsing van die burgemeester en twee senior amptenare van die Nala-plaaslike munisipaliteit (Bothaville, Wesselsbron) is ʼn stap in die regte rigting.
Die burgemeester, Nozililo Mashija, die munisipale bestuurder, Scotch Lehloenya en die hoof finansiële beampte, Mochela Lekitlane, is Dinsdag tydens ‘n spesiale raadsvergadering geskors hangende ondersoeke teen hulle wat verband hou met onreëlmatighede in die munisipaliteit.
Die meerderheid van die raad, insluitend ANC-raadslede, het ten gunste van hul skorsing gestem.
Nala gaan die afgelope paar jaar gebuk onder swak dienslewering, finansiële wanbestuur en moontlike korrupsie.
Die VF Plus het al verskeie aksies in die munisipaliteit geloods om stabiliteit en dienslewering te verbeter, waaronder ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester
Die party sal toesien dat die ondersoek na hul skorsing onafhanklik en sonder vooroordeel plaasvind.
Die VF Plus bly daartoe verbind om die munisipaliteit aanspreeklik te hou en sal aanhou poog om dienslewering en verantwoordbare leierskap in Nala te herstel.


