Skrootmetaaldiewe teiken die afgelope twee maande woonbuurte in Pretoria-Noord en Wolmer tydens beurtkrag om watermeters en kragkabels te steel.
Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het ʼn skrootmetaalwerf geïdentifiseer wat na bewering die gesteelde goedere aankoop. Dit is ook by die polisie aangemeld wat die saak opvolg.
Dit blyk egter nie die enigste skrootwerf te wees wat hom aan die aankoop van gesteelde infrastruktuur skuldig maak en hierdie soort misdaad aanmoedig nie.
Die VF Plus moedig inwoners aan om op die uitkyk te wees vir verdagtes en dit dadelik te rapporteer aan die Tshwane-metropolisie of polisie.
Die metropolisie kan geskakel word by die volgende foonnommer en e-posadres: 012-358 7095/6 of TMPDComplaints@tshwane.gov.za.
Inwoners kan ook skrootwerwe wat vermoedelik betrokke is by die aankoop van gesteelde infrastruktuur, rapporteer. Alle inligting sal as vertroulik behandel word.
Die beste manier om hierdie soort misdaad in die kiem te smoor, is om die mark vir gesteelde infrastruktuur te sluit.