Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die Siyathemba-plaaslike munisipaliteit (Copperton, Marydale, Niekerkshoop, Prieska) soos op 31 Oktober aangekondig in die staatskoerant word verwelkom, maar moes lankal gebeur het.
Die ondersoek fokus op bewerings van wanadministrasie, korrupsie en onreëlmatige verkryging van drukkers en kopieermasjiene.
Siyathemba is nie net ’n administratiewe mislukking nie, maar ’n plek waar gemeenskappe daagliks ly onder vervallende infrastruktuur, finansiële wanbestuur en kontrakte wat geen waarde vir inwoners inhou nie.
Die ouditeur-generaal (OG) het reeds herhaaldelik onreëlmatige en vrugtelose besteding uitgelig, sonder enige gevolge. Dit kry nou uiteindelik die aandag wat dit verdien.
Die VF Plus dring aan dat die SOE-ondersoek uitgebrei word om ook alle tenders sedert 2016 te dek, insluitend die moontlike betrokkenheid van raadslede en amptenare by onreëlmatighede.
Die kern van die probleem lê in onbevoegde aanstellings wat polities beskerm word.
Diegene wat hulself verryk het met korrupte kontrakte moet nie net dissiplinêr aanspreeklik gehou word nie, maar ook strafregtelik vervolg word.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, om:
• Die uitslae van die ondersoek onmiddellik openbaar te maak sodra dit beskikbaar is;
• ’n Artikel 139-intervensie in terme van die Grondwet te loods om die munisipaliteit te red;
• Skuldige amptenare onmiddellik te skors en aan te kla.
Die VF Plus sal aanhou veg vir aanspreeklikheid, regverdigheid en ordentlike dienslewering aan die inwoners van Siyathemba.


