Die uitspraak van die arbeidsappèlhof wat Eskom toelaat om kleur bo meriete te stel met die aanstel van persone in senior bestuursposisies, ondermyn alle beginsels van meriete en werkywer.
(Eskom allowed to exclude white males from senior management appointments: MyBroadband: 8 November 2025)
Mnr. Alwyn Erasmus, ‘n werknemer met meer as dertig jaar diens by Eskom, se aansoek om ‘n vakante senior bestuurspos is enkele jare gelede afgekeur omdat hy wit is. Eskom het aangevoer dat swart mans asook vroue van enige rasgroep voorkeur moet geniet.
Solidariteit het mnr. Ersamus daarna bygestaan en in Mei verlede jaar het die arbeidshof se regter Hilary Rabkin-Naicker beslis dat Eskom se optrede ‘n onbillike vorm van diskriminasie en ‘n oortreding van Suid-Afrika se Wet op Gelyke Indiensneming was.
Eskom het die saak na die arbeidsappèlhof geneem wat verlede week die arbeidshof se beslissing omgekeer het en in Eskom se guns beslis het.
Die hof het beslis dat die betrokke wet ontwerp is om aangewese groepe te “beskerm en te bevorder” deur voorkeur aan swart mans en -vroue te gee.
Die VF Plus beskou hierdie uitspraak as ‘n skending van individuele regte en ‘n bevestiging van rasgegronde beleid wat al vir langer as 30 jaar groot en sigbare skade aan Suid-Afrika se staatsinstellings en die ekonomie aanrig.
Nadat die VF Plus vir jare alleen teen die skadelike gevolge van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gewaarsku het, begin daar toenemend stemme teen hierdie beleid opgaan.
Dit is duidelik dat dit nie historiese ongelykhede herstel nie, maar eerder lei na die ineenstorting van kerninstellings soos Eskom wat ‘n groot rol speel in die land se ekonomiese agteruitgang.
Hoogs bevoegde en opgeleide persone in die openbare sektor is oor dekades opsy geskuif ter wille van kwotas en demografiese teikens wat bloot tot onbevoegde aanstellings en ‘n kultuur van bevooroordeelde kaderbevorderings gelei het.
Dit is juis by Eskom waar die gevolge hiervan duidelik te sien is en waar daar selfs vanuit regeringskringe ‘n wekroep opgegaan het dat kundige persone na Eskom teruggebring moes word om die instelling te red.
Ná meer as drie dekades van RA en SEB moet gevra word hoe lank dit nog gaan voortduur. Die tyd het aangebreek vir ‘n samelewing waar verdienste en nie velkleur of geslag nie, die beslissende faktor by aanstellings in die openbare sektor is.
Net dit sal ware opheffing vir alle behoeftige mense in die land bring. RA het misluk en het ‘n instrument van omgekeerde diskriminasie geword.
Die VF Plus eis ‘n tydsbeperking op rasgegronde wette soos RA en ‘n hersiening van wette soos die Wet op Billike Indiensneming.
Die toekoms van die land se jeug kan die langer op die altaar van ANC-ideologie geplaas word nie. Dit is tyd vir ‘n nuwe era van billikheid waar meriete en bevoegdheid in die plek van kader-onbevoegdheid gestel word.


