Die aanpassingsbegroting wat tydens die spesiale raadsvergadering van die Setsoto-plaaslike munisipaliteit (Ficksburg, Senekal, Marquard, Clocolan) binne slegs 45 minute deur die ANC-lede deur gestoomroller is, dui op die onwillige, moedswillige, eensydige en ondeurdagte werkswyses van die ANC in die raad.
Die VF Plus se navrae rondom die aanpassingsbegroting is bloot geïgnoreer en afgemaak as onbelangrik, omdat die raad ‘later uitklaring oor navrae sal ontvang’ en die aanpassingsbegroting so gou moontlik goedgekeur moet word om munisipale inkomste te verhoog.
Die VF Plus kan nie hierdie begroting en gepaardgaande leë beloftes aanvaar nie en het, ten spyte van die ANC se hardhorigheid tydens die vergadering, die Speaker van die raad, Krog Mokhuoane, in kennis gestel om die party se teenstem duidelik te notuleer.
Die ANC kan nie vertrou word nie en het dit opnuut bewys met die onseremoniële heraanstelling van die omstrede munisipale bestuurder, Tshepiso Ramakarane, ten spyte van ‘n eksterne forensiese ondersoek wat sowat R500 000 beloop het.
Die VF Plus dring daarop aan dat die volle bedrag van dié oudit van die ANC-raadslede verhaal word, aangesien dit daarop dui dat faksiegevegte agter die heraanstelling van Ramarakane is en nie as gevolg van die verslag wat hom van alle onreëlmatighede kwytskeld nie.
Die roekelose regeerstyl van die ANC en sy minagting vir reëls en prosedures dra direk by tot die agteruitgang van die voorheen trotse Oos-Vrystaatse dorpe.
Inwoners van Setsoto moet kennis neem dat die ANC geen vooruitsigte vir die ontwikkeling en welstand van gemeenskappe het nie en bloot die raad as rubberstempel vir ANC-besluite misbruik.
Navrae: 078 646 1289