Die munisipale werkersvakbond, Samwu, het in ‘n verklaring te velde getrek teen die nasionale tesourie en dreig opnuut om die land lam te lê met ‘n staking oor salaris-eise.
Dit staking sal volgens Samwu plaasvind indien munisipaliteite op advies van die tesourie sou afwyk van die meerjarige salaris-ooreenkoms wat bepaal dat munisipale amptenare vanaf 1 Julie 2020 ‘n verhoging van 6,25% sal ontvang.
Die tesourie het aanbeveel dat munisipaliteite wat weens die onvoorsiene Covid-19-pandemie finansiële druk ervaar, aansoek met doen om vrystelling van die ooreenkoms in terme van ‘n bepaling in die ooreenkoms wat dit moontlik maak.
Samwu het hierop gewaarsku dat enige sodanige “ inmenging” van die tesourie in munisipale aangeleenthede as ‘n “oorlogsverklaring” beskou sal word. Die feit dat Samwu op hierdie kritieke tydstip onbekostigbare eise op gemeenskappe wil afdwing wat reeds verarm word deur die inperkings, is immoreel en tekenend van ‘n dislojale werkerskorps wat totaal net op hul eie belang ingestel is.
Die feit dat munisipale infrastruktuur landwyd in duie stort weens hierdie werkers se laksheid en wanbestuur, maak hierdie eise soveel te meer immoreel en sinies.
Gegewe Samwu se geskiedenis van gewelddadige arbeidsoptrede en die vernietiging van eiendom om hul eise aan owerhede op te dwing, is dit van kritieke belang dat die regering tydige en gepaste stappe neem om ‘n herhaling van sulke optrede te voorkom.
Samwu het mettertyd en grootliks te wyte aan sy alliansie-verbintenis met die ANC-regering, ‘n destruktiewe greep op plaaslike regering verkry wat ten alle koste verbreek moet word. Die land het reeds te kampe met byna onoorkomelike uitdagings.
‘n Gebrek aan gepaste stappe deur die regering, wat die rasionalisering van hierdie opgeblase en dislojale werkerskorps insluit, sal die indruk versterk dat die regering bloot ‘n ruggraatlose marionet is wat gemanipuleer word deur sy alliansie-vennote om hul gevestigde belange ten koste van die Suid-Afrikaanse samelewing te beskerm.
Navrae: 079 4098342