Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se finansiële state vir die 2024/25-boekjaar lyk goed op papier, maar die waarskuwingstekens is onmiskenbaar daar dat bankrotskap die redery steeds in die gesig staar.
Die betrokke finansiële state skets tans ‘n positiewe prentjie, maar die vermoede is dat dit van korte duur sal wees aangesien die redery sy opstyg-en landingsregte by die Heathrow-lughawe verkoop het om sy kontantvloei te verbeter.
Die minister van vervoer, me. Barbara Creecy, het dit verlede week tydens ‘n sitting van die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer bevestig.
Hierdie transaksie het daartoe gelei dat SAL op sy boeke ‘n totale inkomste van R9.3 miljoen, operasionele koste van R9.6 miljoen en ‘n totale inkomste van R372 miljoen op vrag- en posvervoer getoon het.
Die redery se totale bates oorskry wel sy totale laste, maar die skrif bly aan die muur.
Luidens ‘n verslag van die ouditeur-generaal (OG) vir die 2024/25-boekjaar wat vandeesweek voor die komitee gedien het, het SAL se laste toegeneem vanaf R6.3 miljard tot R9.4 miljard. Sy bates het gegroei van R12.8 miljard tot R16.1 miljard.
Op ‘n vraag van die VF Plus aan die OG of hierdie situasie as volhoubaar en finansieel gesond beskou kan word wat die toekoms van die redery aanbetref, was die antwoord dat, vanuit ‘n operasionele oogpunt, dit nie die geval is nie.
Die VF Plus wou ook by SAL direk weet wat sy debiteure hom skuld. Die antwoord was dat die skuld ‘n yslike bedrag van tussen R1.5 en R1.7 miljard beloop. Die redery se skuld aan sy krediteure beloop tussen R800- en R900 miljoen.
Die redery spog dat hy geen uitstaande langtermyn-lenings of enige ander uitstaande lenings het nie aangesien dit in 2024 ten volle afbetaal is met fondse wat deur sakeredding verkry is.
Intussen is dit onseker wat die SAL aan Sun Express betaal om op ‘n gereelde grondslag van hul vloot vliegtuie gebruik te maak.
Indien die SAL geen reddingsboei ontvang het nie en nie sy regte by Heathrow verkoop het nie, sou sy finansiële situasie hoegenaamd nie so goed gelyk het nie.
Dit is duidelik dat daar steeds groot probleme is soos oudits wat nie slaag nie, voldoende finansiële rekordhouding wat ontbreek, problematiese ongemagtigde uitgawes, asook ‘n gebrek aan gevolgbestuur.
‘n Voldoende befondse- en funksionele interne ouditeenheid is broodnodig om ‘n presiese prentjie hieroor te kry.
Die tyd het aangebreek dat die belastingbetaler finaal van die SAL-las onthef word deur die redery te verkoop. Die regering sal nooit werklik daarin slaag om die SAL sonder deurlopende hulp uit sy finansiële verknorsing te kry nie.
Privatisering is die enigste uitweg om finaal van hierdie duur, dooie voël ontslae te raak wat soos ‘n albatros om die belastingbetaler se nek hang.


