Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

SAL is nie ‘n werkskeppingsorganisasie vir ongekwalifiseerde kwota-vlieëniers nie

“Die besluit van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL/SAA) om opleidingstandaarde vir nuwe vlieëniers te verlaag is absurd en hou ‘n gevaar in vir passasiers en die lugdiens self. Die VF Plus gaan daarom ‘n skrywe rig aan die Internasionale Lugvervoer Vereniging (IATA) en die Internasionale Organisasie vir Burgerlike Lugvaart (ICAO) om die instansies te versoek om ondersoek in te stel na die SAL se voorgenome planne,” sê Adv. Anton Alberts, die parlementêre woordvoerder oor Vervoer vir die Vryheidsfront Plus.

“Die negende omkeerstrategie van die SAL sluit in die hersiening van opleiding van kadet-vlieëniers. Daarvolgens sal vlieëniers minder vlugure benodig en ‘n derde vlieënier sal in die kajuit geplaas word gedurende vlugte. Die berekende koste vir die nuwe opleidingstrategie gaan R200 miljoen per jaar in addisionele koste van belastingbetalers vereis.

“Dit is duidelik dat die SAL die opleidingstandaarde verlaag om voorsiening te maak vir hul sogenaamde ‘ontwikkelingsdoelwitte’. Hierdie ontwikkelingsdoelwitte wat die regering aan SAL voorskryf sluit in die streng toepassing van regstellende aksie, waar senior wit vlieëniers aan ander lugdienste beskikbaar gestel word om dan vervang te word met jonger, minder ervare swart vlieëniers.

“IATA, waarby die SAL geaffilieer is en die ICAO skryf minimum standaarde voor wat in opleidingsprogramme ingesluit moet word. Die VF Plus gaan die twee liggame vra om in te gryp en seker te maak dat die nuwe plan van die SAL die standaarde handhaaf.

"IATA en die ICAO poog tans om opleiding van vlieëniers strenger te maak. Dit is nadat IATA bevind het dat daar ‘n toenemende aantal vliegongelukke internasionaal voorkom waar die oorsaak toe te skryf is aan menslike foute en nie weens tegniese of operasionele foute nie. Suid-Afrika bevind hom weer eens in ‘n posisie waar hy in ‘n teenoorgestelde rigting as die res van die wêreld beweeg omdat die ANC-regering sy sogenaamde ontwikkelingsdoelwitte as beleid afdwing.

“Die regering en SAL se beheptheid om wit vlieëniers met swart vlieëniers te vervang en so aan kwotas te voldoen, kos belastingbetalers miljarde rande. Dit is nie genoeg dat die SAL reeds R16 miljard verloor het in die afgelope 13 jaar nie en telkens deur belastingbetalers gered moes word nie. Die ondeurdagte toepassing van regstellende aksie-planne om aan kwotas te voldoen gaan belastingbetalers nog meer onnodige fondse moet laat opdok. Hierdie plan bewys ook weer eens dat die SAL se regstellende aksie-program buite die bedoeling van die Grondwet en die Wet op Gelyke Indiensneming is. Die SAL raak ontslae van een kategorie werkers, te wete ervare wit vlieëniers, om hulle met ‘n ander kategorie, onervare en minder ervare swart vlieëniers te vervang.

"Die SAL is nie ‘n werkskeppingsorganisasie wat die regering kan gebruik om sy rassebeleid van regstellende aksie te implementeer onder die dekmantel van ‘ontwikkelingsdoelwitte’ nie. Die VF Plus is nie bereid om toe te kyk hoe die absurde praktyke die ekonomie en passasiers se lewens in gevaar stel en terselfdertyd belastingbetalers miljoene rande kos nie,” sê Adv. Anton Alberts.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.