fbpx
Vryheidsfront Plus

SA-regering werk teen gestelde Afrika-Unie-beginsels oor desentralisering van magte

Die VF Plus het vandag tydens ʼn parlementsitting oor die Afrika-handves oor die waardes en beginsels van desentralisering, plaaslike regering- en ontwikkeling, uitgewys dat die ANC-regering se beleidsrigtings lynreg in teenstelling met die gestelde beginsels en waardes van die handves is.

Die Afrika-Unie (AU) het die handves al in 2014 aanvaar. Die handves verbind AU-lidlande onder meer daartoe om die desentralisering van magte na streeks- en plaaslike owerhede as ʼn sentrale element in hul regeringsbeleid te plaas om ekonomiese groei en beter dienslewering te bewerkstellig.

Die implementering van doeltreffende teenkorrupsie-meganismes en -maatreëls om natuurlike hulpbronne soos water te beskerm, word ook beklemtoon.

Sentraal tot die beginsels soos vervat in die handves, is die instelling van meganismes om verantwoordbare plaaslike regerings daar te stel en behoorlike aanspreeklikheid te verseker.

Suid-Afrika het egter sedert die aanvaarding van die handves in 2014, lynreg in stryd met die beginsels opgetree met die instel en implementering van regeringsbeleid.

Die gevolge hiervan kan duidelik gesien word in die stand van Suid-Afrikaanse munisipaliteite.

• Verál sedert 2014 het munisipale dienslewering met rasse skrede agteruitgegaan.
• Die stroping van munisipale hulpbronne en algemene korrupsie deur veral ANC-faksies het hand oor hand toegeneem.
• Met die gepaardgaande wanbestuur in munisipaliteite, het kritieke infrastruktuur tot só ʼn mate verval dat die grootskaalse besoedeling van veral die land se waterbronne omvangryk geraak het.
• Van plaaslike ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika is daar bykans geen sprake meer nie.

Sogenaamde ingrypings by munisipaliteite deur die nasionale- en provinsiale regerings was ten beste ondoeltreffend. Die sogenaamde “ingrypings” het meesal net daartoe gelei dat nuwe korrupsiekanale deur die aangestelde “administrateurs”, beter bekend as ANC-kaders, ingestel is.

Die ANC-regering se sogenaamde nuwe distriksontwikkelingsmodel (DDM), wat sedert 2019 gepropageer word, is reeds bewys as net nog ʼn stel leë regeringsbeloftes om kiesers te mislei in die aanloop tot die 2024-verkiesing.

Behalwe vir die feit dat die ANC-kultuur van korrupsie, selfverryking en kaderontplooiing onomkeerbaar in die party se weefsel ingewortel is, bly die feit ook staan dat die ANC skynbaar blind is vir die rampspoedige gevolge van sy onwerkbare sosialistiese beleidsrigtings.

ANC-beleid is suiwer geskoei op die sentralisering van mag en die sogenaamde “herverdeling” van onverdiende welvaart. Die resultate hiervan is daar vir die hele wêreld om te sien.

Die VF Plus sal met die aanvang van ʼn koalisieregering in 2024, verseker dat ʼn duidelike beleid vir die desentralisering van magte en ʼn kragtige bemagtigingsmodel vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling in werking gestel word. Dít is ʼn onontbeerlike element van gesonde regeringsbeleid om volhoubare ekonomiese groei en gepaardgaande werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te verseker.

Suid-Afrika kan nie nog ʼn termyn van ANC-magsbeheptheid en selfverryking bekostig nie.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.