Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC kan nie vertrou word met blanko tjek oor medisyne-agentskap vir Afrika-Unie

(Parlementsdebat: Oorweging van versoek om goedkeuring deur parlement van verdrag vir die stigting van Afrika Medisyne-agentskap (AMA))

Die ANC-regering kan nie vertrou word met ʼn blanko tjek van die land se belastingbetalersgeld oor die stigting van ʼn medisyne-agentskap vir die Afrika-Unie nie.

Die doel van die verdrag is om seker te maak dat alle mense van Afrika toegang het tot goeie, veilige en bekostigbare mediese produkte wat aan internasionaal erkende standaarde vir prioriteitsiektes voldoen.

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie verdrag verskil van die Internasionale Gesondheidsverdrag wat handel oor die pandemievoorkoming van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Uit die 55 Afrika Unie-lidlande het 30 lande al hierdie verdrag bekragtig sedert Maart vanjaar.

Wat die VF Plus kwel, is die bedrag wat Suid-Afrika tot die agentskap sal moet bydra. Die bedrag is nie bekend nie.

Dit is wel bekend dat Suid-Afrika geen beheer sal hê oor die bedrag nie aangesien dit nog deur die betrokke agentskap se lid lande bepaal moet word. Die VF Plus is bekommerd dat hierdie bedrag buitensporig hoog kan wees.

Artikel 231 van die Grondwet maak dit duidelik dat enige internasionale verdrag of verdrae wat die regering aangaan, eers bindend is ná die goedkeuring van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Suid-Afrika se ekonomie verkeer onder groot druk en die land het nie die fondse om hom te bind aan ʼn verdrag waartoe hy ʼn onbekende bydrae sal moet lewer nie. Totdat dit nie bekend is nie, kan die moontlikheid van aansluiting nie eens oorweeg word nie.

Soos sake tans staan, kan die departement van gesondheid nie eens alle vakante poste vir dokters en verpleegsters vul nie en daar is nie genoeg geld vir medisyne en mediese toerusting vir staats- en provinsiale hospitale nie.

Agterstallige mediese prosedures kan nie uitgewis word nie en operasies sloer omdat lugverkoelers in teaters nie werk nie.

Daar is reeds R26 miljard in die bodemlose put van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gestort en nou wil die regering ʼn verdrag onderteken waarvan die koste onbekend is.

Die departement is duidelik nie eens in staat om sy verpligtinge teen sy eie mense na te kom nie en wil nou help om die res van Afrika te versorg.

Die VF Plus kan geen besluit of verdrag steun waar ʼn blanko tjek aan die onbevoegde en onbetroubare ANC-regering gegee word nie.

Die regering en die minister van gesondheid sal eers die betrokke aangeleentheid met die Afrika Medisyne Agentskap (AMA) moet uitklaar alvorens Suid-Afrika hierdie verdrag onderteken.

Dit sal uiters onverantwoordelik van die Suid-Afrikaanse regering wees om enige verdrag te onderteken sonder dat die nodige inligting ingewin en onduidelikhede uit die weg geruim is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.