Die VF Plus het vandag bevestiging gekry dat die Valke wel die betrokkenheid van Suid-Afrikaners by die Fifa-bedrogspul gaan ondersoek, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.
Die verwysingsnommer vir die saak is ACTTIR 2015/06/06.
Adv. Alberts sê die VF Plus, wat die saak aanhangig gemaak het, het versoek dat daar in die besonder gekyk moet word na die uitlatings van Danny Jordaan, die ANC se burgemeester vir die Nelson Mandelabaai-metropool en president van die SA Sokkervereniging (SAFA) dat ‘n bedrag van $10 miljoen wel aan Concacaf betaal is vir ‘sokker-ontwikkeling’.
Hy sê die Valke het bevestig dat die ondersoek gedoen sal word in samewerking met die Amerikaanse owerhede en die FBI wat reeds met die ondersoek besig is.
“Suid-Afrika se minister van sport, Fikile Mbalula kan gerus kennis neem van die Valke-ondersoek, asook van die feit dat Suid-Afrikaanse politici wat moontlik by die bedrogspul betrokke kan wees, nou ook deel vorm van die amptelike ondersoek.
“Sy pogings om die indruk te skep dat niks ongerymds gedoen is deur mense in Suid-Afrika nie, is daarom onvanpas en loop die ondersoek vooruit. Hy kan hom daarby berus dat ‘n hoë vlak-ondersoek nou aan die gang is om die waarheid te ontbloot,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403