Die eerste van vier openbare deelname vergaderings om die samesmelting van munisipaliteite aan die Wes Rand te bespreek, is gister in Randfontein gehou.
“Krugersdorp sal as die munisipale middelpunt dien wat beteken dat inwoners van Randfontein, Westonaria, Carletonville, Oberholzer, Welverdiend en Fochville hul munisipale sake hier moet aanspreek,” meen rdl. Amanda de Lange van die VF Plus.
Die vorige poging vir die samesmelting van munisipaliteite om ‘n megastad te vorm, is deur die VF Plus gestuit met die indien van ‘n klagte by die Afbakeningsraad. Die klagte het aangevoer dat leiers nie die regte prosedures gevolg het om die samesmelting deur te voer nie.
“Kennisgewing vir die vergadering is eers verlede week uitgestuur alhoewel plaaslike munisipaliteite reeds in Maart geweet het dat hulle ‘n openbare deelname vergadering moet reël. Dit is ook moeilik vir belastingbetalers om gedurende die week sulke belangrike vergaderings by te woon,” aldus rdl. de Lange
Gedurende die vergadering het beide die Wesrand-distrik burgemeester, Mpo Nawa en die Randfonteinse burgemeester, Mzi Khumalo, klem gelê op die finansiële voordele wat die samesmelting vir die dorp kan beteken asook groter regerings- fondse en subsidies.
“Beide burgemeesters het apartheid die skuld gegee vir hul onvermoë om die dorp se sake suksesvol te bedryf. Dit is hartseer en pateties dat apartheid weer gebruik word om mense te beïnvloed. Hulle het dit duidelik gestel dat die samesmelting gebruik word om weg te doen met die ou apartheidstrukture wat volgens hulle, gemeenskappe geskei het.”
In haar toespraak sê de Lange apartheid kan nie geblameer word nie, maar wel senior amptenare se onbevoegdheid en wanbestuur.
Volgens de Lange het sy teen die einde uit die vergadering gestap omdat dit duidelik was dat geen feite of belangrike inligting rondom die samesmelting bekend gemaak gaan word nie. Daar is ook nie aangedui hoe bankrot-munisipaliteite in die samesmelting ingevoeg gaan word en hoe daar ‘n positiewe finansiële uitkomste verwag word nie. Geen aanduiding is ook gegee watter finansiële impak dit op Randfontein se belastingbetalers gaan hê nie.
Die VF Plus ondersteun finansiële voortuitgang maar kan ongelukkig nie dié samesmelting ondersteun nie weens die bankrotskap van verskeie dorpe.
Amanda de Lange
VF Plus raadslid: Mogale City
071 604 9498