fbpx
Vryheidsfront Plus

SA Express net nog ‘n bodemlose put vir belastingbetalers se geld

Dit is kommerwekkend om te sien dat daar onlangs ook stilweg ‘n reuse reddingsboei aan SA Express gegee is terwyl die aandag op Eskom, die SAL en die SAUK toegespits was.

Volgens die Vryemarkstigting het SA Express in November verlede jaar ‘n reddingsboei van R1,24 miljard van die staat ontvang en nou weer staatsgewaarborgde finansiering van R300 miljoen.

Dit blyk dat die Vryemarkstigting SA Express deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting moes dwing om die inligting in sy finansiële state en bestuursrekening bekend te maak.

SA Express het nou net nog ‘n groot gat geword waardeur belastinggeld uit die fiskusdam sypel en op die huidige trant sal dit aanhou totdat daar niks oor is nie. Die ANC sal die een of ander tyd moet besef daar is nie ‘n onuitputlike bron van geld in die land nie en staatsondernemings kan nie onbepaald gered word nie.

Soos met e-tol gaan belastingbetalers ‘n drempel bereik vanwaar hulle nie meer bereid sal wees om belasting te betaal en daarna toe te kyk hoe dit vermors word nie. Die onvermydelike gevolg is belastingvermyding wat tot belastingontduiking sal lei.

Die regering sal bedag moet wees daarop dat staatsondernemings wat soveel geld kry, uiteindelik tog verkoop en ontbondel sal moet word om te sorg dat die staat stabiel bly. Soos die staatsondernemings is die staat self naby die punt waar hy ‘n reddingsboei sal moet kry van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Die Sjinese ambassadeur het reeds aangedui dat dié land nie bereid is om verdere lenings aan Suid-Afrika toe te staan nie met die implikasie dat Suid-Afrika nie beleggingsgraad-kwaliteit is nie. Indien dit gebeur, sa die staat gedwing word om by die IMF geld te leen.

Dit sal lei tot ‘n situasie waar streng voorwaardes gestel sal word oor geldelike hulp aan Suid-Afrika wat op die lang termyn goed sal wees aangesien dit ongetwyfeld sal vereis dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) afgeskaf word en dat meriete onder meer gebruik sal word om die ekonomie te herstel. Onder ‘n ANC-regering is sulke maatreëls al wat die ekonomie weer sal kan regruk.

Hierdie reddingsboei aan SA Express is maar net nog ‘n spyker in die ANC-doodskis wat daartoe sal lei dat Suid-Afrika se ekonomie oorgegee sal moet word in die hande van die IMF om die land te red van ‘n Venezuela en Zimbabwe-uitkoms.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.