Die land se infrastruktuur is besig om in duie te stort weens gebrekkige of totaal afwesige onderhoudswerk. Minder as die helfte van die land se munisipaliteite het selfs enige plan om hul infrastruktuur in stand te hou.
Dit blyk uit antwoorde van minister Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), op parlementêre vrae van die VF Plus oor die aangeleentheid. (Volledige vrae en antwoorde hierby aangeheg).
Die VF Plus het onder meer aan die minister gevra hoeveel munisipaliteite in elke provinsie infrastruktuur-onderhoudsplanne in plek het en hoeveel van die planne ten volle of gedeeltelik uitgevoer word.
Die skokkende antwoord is dat slegs 45% van alle munisipaliteite in Suid-Afrika enige onderhoudsplan op die tafel het wat alle munisipale dienste insluit. Van hierdie 45%, is slegs 10% besig om hul panne ten volle uit te voer.
Die minister verwys in haar antwoord na die ouditeur-generaal (OG) se 2018/19-verslag wat meld dat 41% van munisipaliteite wat geoudit is, geen goedgekeurde beleidsplan het oor roetine-onderhoudswerk aan water- en rioolinfrastruktuur nie terwyl 27% geen plan het oor onderhoud aan hul pad-infrastruktuur nie.
Die verskonings wat die minister hiervoor aanbied, is ‘n “gesukkel” om op plaaslike vlak belasting en heffings in te vorder weens ‘n “verskeidenheid redes” soos swak regering, swak sosio-ekonomiese toestande en ‘n klein belastingbasis.
Die antwoord lui voorts dat die minister (van Cogta) en die minister van finansies (Tito Mboweni) voorsien dat die Munisipale Infrastruktuur-toelaag sal help om die probleem van instandhouding en die bou van nuwe infrastruktuur op te los.
Die minister noem ook verskeie programme om munisipale werkers en amptenare op te lei soos die Recognition of Prior Learning Programme (RPL).
Die VF Plus staan egter skepties teenoor enige plan of program van die ANC-regering om probleme in die land suksesvol te behandel.
Die kultuur van swak dienslewering staan al gelyk met die kultuur van nie-betaling vir dienste. Dit kan net omgekeer word deur van die ANC-regering ontslae te raak.
Die minister se antwoorde laat geen twyfel bestaan oor die feit dat infrastruktuur in die land op groot skaal in duie stort en dat daar min of geen vooruitsig is dat dit sal verbeter nie.
Die regering moet daarop let dat gemeenskappe toenemend die verantwoordelikheid vir dienste en onderhoudswerk op hulself begin neem en dat munisipale inkomste dienooreenkomstig sal afneem.
Daar kan nie van inwoners verwag word om te betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie.