Rooftogte by polisiekantore word ‘n groot bron van onwettige vuurwapens in die hande van misdadigers.
Dit blyk duidelik uit die antwoord van die minister van polisie, Bheki Cele, op ‘n parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Volgens die skriftelike antwoord van die minister was daar vanaf 1 April 2018 tot 31 Maart 2021 dertien rooftogte by polisiekantore waarin 78 vuurwapens en 982 rondtes ammunisie geroof is. (Vraag en antwoord hierby aangeheg).
Behalwe die rooftogte wat bewys misdadigers vrees nie die polisie nie, is dit ontstellend dat nie ‘n enkele een van die 24 misdadigers wat in hegtenis geneem is, tot op hede suksesvol vervolg is nie. Dit dui op swak polisiewerk.
Indien in ag geneem word dat die wapens 23 x 5,56mm-aanvalsgewere en 40 x 9mm-pistole insluit, die soort wapens wat veral in transito- en ander rooftogte gebruik word, het polisiekantore duidelik ‘n gerieflike bron van onwettige vuurwapens vir misdadigers geword.
Slegs ses van die 23 aanvalsgewere en net vier van die 40 pistole kon teruggevind word.
In die antwoord van die minister meld hy dat geen rooftog in die 2021/2022-boekjaar by polisiekantore plaasgevind het nie.
Tog is die Hotazel-polisiekantoor op 31 Julie 2021 van drie R5-aanvalsgewere, agt 9mm-pistole en twee 12 boor-haelgewere beroof.
Die antwoord is dus verkeerd en ek sal om ‘n verduideliking hiervoor vra.
Hierdie is vuurwapens wat in rooftogte gebuit is. Indien die duisende vuurwapens wat gesteel of verlore raak by polisiekantore in ag geneem word, raak die polisie nou een van die grootste bronne van onwettige vuurwapens vir misdadigers.
Die minister sal moet antwoorde verskaf hierop en moet sê wat hy daaraan gaan doen.