Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Brandstofkrisis: Voedselsekerheid kan in gedrang kom

Vrese dat brandstoftekorte landwyd kan ontstaan, blyk bes moontlik nie ongegrond te wees nie.

Dit is die afleiding wat ‘n mens maak van beperkings wat reeds deur groot- en kleinhandelaars op individuele aankope geplaas word.

Dit beteken dat die prys van brandstof nie die grootste probleem mag wees nie, al is dit ‘n wesenlike probleem, maar veral die beskikbaarheid daarvan.

Veral voedselsekerheid kan in gedrang kom, omdat dit tans planttyd in die somersaaigebiede is.

Hoewel planttelers spesiale mieliekultivars ontwikkel het wat die plantseisoen aansienlik verleng, is daar ook perke aan.

Dieseltekorte in November en Desember kan agterstande skep wat nie binne hierdie groeiseisoen ingehaal sal kan word nie.

Aangesien die opwekking van elektrisiteit en landbou albei van diesel afhanklik is, kan tekorte daartoe lei dat die twee teen mekaar opgeweeg sal moet word.

Die vraag kan ontstaan: Beurtkrag nou, of voedseltekorte later?

Tot dusver is dit nog hoofsaaklik petrolverkope wat beperk word. Dit kan ongerief tot gevolg hê, maar is minder waarskynlik om voedselsekerheid in gedrang te bring.

Terwyl die staat dekades gelede 'n strategie moes geloods het om die ouer wordende raffineringsgeriewe op te gradeer, is verkies om swaarder op invoere te steun. Dit blyk nou dat dié beleid kortsigtig was.

Die landbou sal genoodsaak wees om bewerkingspraktyke by die laer beskikbaarheid van diesel aan te pas.

Presisie- en bewaringspraktyke, wat tot dusver om ekologiese redes of ter wille van besparing geïmplementeer is, kan die sleutel tot oorlewing raak.

Verder kan dit 'n hupstoot gee aan waterstofaangedrewe swaar vervoer, as 'n manier om hernubare energie in die vervoerbedryf aan te wend.

Energie word toenemend 'n hoeksteen van die ekonomie, waarvoor burgers self verantwoordelikheid moet neem.

'n Mislukkende staat skep moontlikhede vir wanorde, maar ook vir 'n nuwe orde. Watter een dit sal wees, hang af van die keuses wat gewone mense maak.

Navrae: ‪074 166 5540

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.