Die wanbestuur-nalatenskap van die verwyderde burgemeester van die Mangaung-metro munisipaliteit, Olly Mlamleli, word gesien in die rioolbesoedeling van waterbronne wat verreikende gesondheids- en omgewingsgevare inhou.
Talle klagte van rioolbesoedeling in die Dan Pienaar-woongebied in Bloemfontein is by die metro aangemeld, maar geen teken van instandhouding en verligting word gesien nie. Onverwerkte riool vloei vanaf hierdie woongebied deur stormwaterkanale in ‘n spruit wat deur die Tempe-gholfbaan vloei en uiteindelik in die Bloemspruit beland.
Rioolbesoedeling in Mangaung het so erg geraak dat die departement van gesondheid dreig om die Tempe-gholfbaan te sluit vanweë die ernstige gesondheidsgevare wat hierdie besoedeling vir spelers inhou. Die munisipaliteit se versuim om sy hoofrioollyn by die Tempe-gholfbaan in stand te hou, dra ook by tot die afloop van rioolvuil in dieselfde spruit.
Die munisipaliteit bewys weereens sy verkeerde prioriteite deur sy dreigemente om die gholfbaan te sluit, maar nie die oorsprong van die probleem op te los en die hoë risiko in die Dan Pienaar-woongebied in ag te neem nie.
Duisende liter riool beland daagliks in stormwaterslote sowel as die Bloemspruit en vloei in die Modderrivier, voedingskanaal van die Krugersdrifdam, via die Renosterspruit. Talle boere en inwoners van Soutpan is afhanklik van water uit die Krugersdrifdam vir landbou- en huishoudelike doeleindes.
Nie net het Mlamleli se wanbestuur bygedra tot die agteruitgang van die metro nie, maar ook tot gesondheidsgevare vir inwoners en die omgewing.
Die ANC het nou die geleentheid om 'n nuwe burgemeester te verkies ná Mlamleli deur die VF Plus se mosie van wantroue verwyder is. Om haar net weer te verkies sal onaanvaarbaar wees. Die ANC gee duidelik nie vir die omgewing óf inwoners se gesondheid om nie.
Navrae: 064 847 1560