Die voortslepende rekeningkrisis in die Johannesburgse metro beklemtoon die finansiële wanbestuur van dié stad onder die beheer van die ANC en sy koalisievennote.
Die Johannesburg-metro belowe reeds vir jare ʼn funksionele en deursigtige rekeningstelsel, maar steeds ontvang belastingbetalers uitermatig opgeblase rekeninge, verkeerde heffings en in baie gevalle glad nie rekeninge nie.
Dit ondermyn nie net dienslewering nie, maar ook inwoners se vertroue in die stad se administrasie.
Die VF Plus ontvang voortdurend klagtes van inwoners wat met afsluitings gedreig word alhoewel hul rekeninge ten volle betaal is. Ander se rekeninge verhoog onverklaarbaar maand na maand sonder verduideliking.
Ondernemings wat reeds finansieel sukkel weens die ekonomie, word onregverdig geteiken en moet ure in lang rye by die munisipale kantore deurbring om foutiewe rekeninge te betwis.
In sekere gevalle word inwoners gedwing om die howe te nader ten einde hul probleme op te los. Só moes ʼn inwoners wat ʼn diensterekening van R26 miljoen ontvang het, die hof nader om die stad te dwing om nie sy krag en water af te sny nie.
Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers so behandel word.
Die stad se versuim om hierdie krisis op te los, is niks anders nie as administratiewe onbekwaamheid.
In stede daarvan om effektiewe stelsels en behoorlike kliëntediens te prioritiseer, mors die stad steeds geld op gebrekkige tegnologie, onbekwame diensverskaffers en eindelose beloftes van hervorming wat nooit realiseer nie.
Die VF Plus sal die saak nie daar laat nie en sal aanhou om druk op die stad te plaas om sy rekeningstelsels op te gradeer om te sorg dat belastingbetalers korrekte rekeninge ontvang.


