Die VF Plus verwelkom die besluit van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) om nie voort te gaan met 'n reis na Kanada wat sowat R250 000 sou kos nie.
Die munisipaliteit het aanvanklik aangedui dat hy twee verteenwoordigers na Montreal in Kanada sou stuur om die Wêreld-vigskonferensie by te woon.
Die VF Plus het uitgewys dat dit die munisipaliteit net R16 000 sou kos om virtueel aan die konferensie deel te neem. Tydens die Covid-19-inperking het die munisipaliteit slegs op 'n virtuele platform gefunksioneer.
Die VF Plus het reeds in Mei en in Junie tydens raadsvergaderings die voorgestelde reis heftig teengestaan.
Nadat die VF Plus dringende vrae en 'n brief hieroor ingedien het en 'n mediaverklaring uitgereik het wat op die voorspelde vrugtelose en verkwistende uitgawes gewys het, het bronne in die munisipaliteit bevestig dat die reis wel gekanselleer is.
Die munisipaliteit het erken dat die geld elders meer sinvol aangewend kan word.
Die VF Plus sal aanhou om 'n wakende oog te hou oor verkwistende uitgawes om te voorkom dat soortgelyke besluite geneem word.
Vigs is 'n pandemie en beïnvloed talle lewens en dit is dus wel belangrik om soveel inligting moontlik in te samel om dit te bestry.
Deur die regte finansiële besluite te neem, kan die munisipaliteit meer suksesvol wees met die skep van bewustheid hieroor.