Die nasionale polisiehoof, Riah Phiyega, moet geskors word en haar verbintenis met die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Arno Lamoer wat vandag in hegenis geneem is en op verskeie strafregtelike aanklagte in die hof verskyn het, moet heropen word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.
Dr. Groenewald sê die inhegtenisneming van Lamoer en drie ander senior Wes-Kaapse polisie-offisiere op aanklagte van korrupsie, rampokkery en geldwassery, laat opnuut vrae ontstaan oor die regsverydeling-ondersoek teen Phiyega wat laat vaar is nadat sy Lamoer verlede jaar na bewering oor die ondersoek teen hom ingelig het.
Die drie senior bevelvoerders wat saam met Lamoer in hegtenis geneem is, is brig. Darius van der Ross, brig. Sharon Govender, en haar man, brig. Colin Govender. 'n Kaapstadse sakeman, Salim Dawjee, is ook in hegtenis geneem
Volgens dr. Groenewald het Phiyega ontken dat sy Lamoer gewaarsku het en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om haar nie vervolg nie wees onvoldoende bewyse.
“In die lig van die ernstige klagte teen Lamoer, moet hierdie saak en die rol wat Phiyega gespeel het, tot op die been oopgevlek word en die NVG is dit aan die publiek verskuldig om oop kaarte oor die ondersoek te speel.
“Luidens statistiek van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) wat vandeesweek in die media gepubliseer is, is 33% van alle volwassenes in Suid-Afrika bang vir die polisie en 66% dink daar vind knoeiery in die polisiediens plaas.
“Wanneer offisiere in die topbestuur van die polisie in hegtenis geneem word weens ernstige misdaad en die soveelste nasionale kommissaris ook weer onder verdenking staan, is dit geen wonder dat die publiek nie meer vertoue in die polisie het nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403