fbpx
Vryheidsfront Plus

Regspleging sloer in groot dele van Noordwes weens gesloer met herstel van hofgeboue

Regspleging in ‘n groot deel van Noordwes word reeds ‘n geruime tyd ontwrig weens die departement van openbare werke en infrastruktuur se gesloer met die herstel en instandhouding van die hofgeboue in Klerksdorp en Potchefstroom.

‘n Gedeelte van die hofgebou in Potchefstroom is in September 2022 ontruim nadat die dak inmekaargestort het weens ‘n gebrek aan instandhouding.

Noodsaaklike instandhouding by die hof op Klerksdorp sloer ook sedert 2016, ten spyte van vele beloftes deur die departemente van justisie en openbare werke en infrastruktuur.

In Potchefstroom word die stadsaal van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit onder meer as ‘n hofsaal vir strafsake aangewend.

By die hofgebou is slegs twee bruikbare hofsale oor waarin siviele gedinge, strafsake, onderhoudsake en gesinsgeweld-sake aangehoor word. Hierdie geriewe is totaal ontoereikend.

Hierdie situasie lei tot chaos en groot frustrasie onder regslui en hofpersoneel met ‘n hofrol wat daagliks tot onbeheerbare vlakke aangroei.

Litigante en regslui het reeds miljoene rande se skade gelei weens sake wat nie afgehandel word nie.

Met beurtkrag wat nog groter vertragings veroorsaak en die agterstande wat weens die Covid-19-beperkings opgebou is, is die situasie nou buite beheer.

In antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus, het die minister van openbare werke en infrastruktuur, Sihle Zikalala, boonop aangedui dat die herstel van die hofgeboue eers teen onderskeidelik Maart 2024 (Potchefstroom) en Januarie 2026 (Klerksdorp), afgehandel sal wees.

Dit is totaal onaanvaarbaar.

Hierdie is nóg ‘n voorbeeld van ‘n gemeenskap wat moet ly weens die ANC-regering se onbevoegdheid en onverskilligheid jeens die lot van Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.