Randwater, die Ekurhuleni-metro se grootmaatwaterverskaffer, se swak beplanning en nalatigheid om waterinfrastruktuur te onderhou, is die groot oorsaak dat dele van Benoni reeds vir dae min of geen water het nie.
Alhoewel beurtkrag ook ‘n rol speel in die watertekorte, is Randwater se verouderde waterinfrastruktuur die grootste sondebok.
Die Northmead-pompstasie, wat water verskaf aan Benoni se middedorp, Northmead, Farrarmere, Brentwoordpark, Rynfield en Goedeburg, is tans buite werking weens lae waterdruk.
Die Ekurhuleni-metro verskaf tans water aan die inwoners van die gebiede met watertrokke.
Die VF Plus, as koalisievennoot in die metro, sal sorg dat Randwater verantwoordelik gehou word vir sy nalatigheid en sal, indien die watertekorte nie binnekort opgelos word nie, ‘n klag teen Randwater by die menseregtekommissie (MRK) indien.
Randwater se visie is om 'n verskaffer van volhoubare, universeel mededingende water- en sanitasieoplossings vir Afrika te wees.
Tans is dit nie die geval nie en skend hy inwoners van Ekurhuleni se grondwetlike reg op toegang tot voldoende water.
Ekurhuleni se inwoners, en in hierdie geval veral Benoni se inwoners, word gestraf vir Randwater se versuim om kritieke infrastruktuur te onderhou.