Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en die regering sal moet begin luister na medici en wetenskaplikes oor die Covid-19-inperkings.
Verskeie medici en wetenskaplikes, wat op Mkhize se advieskomitee dien, het die afgelope naweek in die media erken dat die inperkings geen doel meer dien nie en dat die staat hom nie aan hul raad steur nie.
Hierdie inligting is vir die VF Plus kommerwekkend aangesien selfs die regering se hoof-gesondheidsraadgewer, prof. Salim Abdool Karim, ook vroeër die maand bekend gemaak het dat die inperking sy doel gedien het en dat Suid-Afrikaners se lewe na normaal moet begin terugkeer.
Die minister van gesondheid sal die kundiges se raad moet begin volg. Verdere inperkings gaan die uiteindelike verspreiding van die virus nie keer nie. Dit het vir die regering tyd gekoop om die land se gesondheidstelsel in gereedheid te kry.
Die VF Plus hoop dat hierdie tyd wel goed deur die regering gebruik is. Die resultaat daarvan sal eers tydens die verwagte piektyd van die virusverspreiding gesien word.
Die VF Plus is ook bekommerd daaroor dat die land se totale gesondheidstelsel tot ‘n stilstand kan kom weens die fokus op Covid-19 aangesien die stelsel in hierdie stadium ontwrig word. Daar kan nie net op die pandemie gefokus word nie, maar ander belangrike aanmeldbare siektes en operasies moet ook weer aandag begin kry. Dit is kommerwekkend dat so veel as 146 000 operasies oor ‘n tydperk van 12 weke uitgestel kon word.
Gewone mediese sorg kan so ‘n agterstand ontwikkel dat dit kan lei tot chaos in die openbare sektor en die behandeling van gewone siektes kan moeilik raak.
Dit is ook kommerwekkend dat die inperkings sy tol begin eis by dokters en spesialiste in die private sektor. Luidens berigte het hierdie dokters se inkomste met tussen 40% en 60% gedaal wat druk op hulle plaas om voort te gaan om dienste te lewer.
Die minister en die regering sal moet begin besef die virus gaan verder versprei, ongeag die inperking. Dit is nou noodsaaklik om die ekonomie te ontsluit om dreigende krisis van katastrofiese omvang af te weer.
Kontaknommer: 060 556 4347