Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Regering moet hom laat lei deur wetenskaplikes en medici oor gesondheidsregulasies

Alhoewel pres. Cyril Ramaphosa gesê het dat die regering hom laat lei deur wetenskaplikes en medici met die opstel van die voorgestelde gesondheidsregulasies wat verlede week in die staatskoerant gepubliseer is, blyk dit dat van die regulasies nie goed deurdink is nie.

Die regulasies het ten doel om die huidige Covid-19-pandemie asook toekomstige pandemies wat mag uitbreek, te bestuur en die regering in staat te stel om die huidige ramptoestand op te hef.

In effek beteken dit dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) nie meer die Covid-19-pandemie onder die Rampbestuurswet sal reguleer nie, maar deur die minister van gesondheid onder die Gesondheidswet.

Inperkings sal steeds afhang van die regering se wense en misbruik van mag.

Dit maak geen sin nie dat verskeie lande soos byvoorbeeld Brittanje in die laaste tyd alle Covid-19-inperkings afgeskaf het, maar Suid-Afrika, wat nie soos die res van die wêreld baie hard deur die pandemie getref is nie, wil in sy voorgestelde gesondheidsregulasies die dra van maskers, een meter sosiale afstand en die toon van inentingsertifikate behoue laat bly.

Die VF Plus het sedert Augustus 2021 die regering daarop gewys dat gedwonge inentings nie die gewenste uitwerking op die land se burgers gaan hê nie en dat sulke dwang net sou lei tot onnodige spanning en chaos in gemeenskappe.

Dit moet steeds elke landsburger se eie vrye keuse bly om die inentings te neem of nie en daar kan nie teen mense gediskrimineer word indien dit hul keuse is om dit nie te neem nie.

Die toerismebedryf gaan ook langer neem om te herstel omdat toeriste steeds onderwerp kan word aan koorsmetings, toetse, isolering/kwarantyn en die bewys van inenting.

Die Covid-19-ramptoestand moet nou in geheel opgehef word sonder stremmende regulasies wat ekonomiese aktiwiteite strem.

Die VF Plus doen ‘n beroep op wetenskaplikes, medici en die publiek om voor 15 April 2022 kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies soos gepubliseer in Gazette 46048 van 15 Maart 2022.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.