Die VF Plus sal sy stryd teen rioolbesoedeling in die Phokwane-plaaslike munisipaliteit voortsit nadat daar tydens ‘n oorsigbesoek gevind is dat die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte steeds buite werking is.
Intussen duur die besoedeling van skaars waterbronne en die omgewing ongehinderd voort.
Mnr. Anthony Wyngaard, ‘n regsbeampte van die Mensregtekommissie (MRK) in die Noord-Kaap, het die VF Plus genooi om hom op ‘n oorsigbesoek te vergesel na die rioolaansuiweringsaanlegte in Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad.
Die VF Plus het sedert 2018 die rioolbesoedeling in die Phokwane-munisipaliteit gereeld onder die aandag van die MRK gebring.
Met die oorsigbesoek aan die rioolsuiweringsaanleg by Hartswater is gevind dat twee pompe werk, maar volgens ‘n personeellid vind geen suiwering plaas nie.
Tans vloei onbehandelde riool uit die aanleg in ‘n stormkanaal en direk na die Hartsrivier. Boere gebruik water uit die Hartsrivier vir die besproeiing van landerye.
Die aanleg in Pampierstad funksioneer nou al vir etlike jare nie meer nie.
Die situasie het so versleg dat die terrein ontoeganklik is vir werkers en voertuie weens die toestand van die toegangspad nadat ‘n sloot langs dit gegrawe is om die riool weg te lei in die rigting van die Hartsrivier.
Die Valspan-rioolaanleg in Jan Kempdorp is in geen beter toestand nie. Geen personeel was tydens die besoek by die aanleg nie.
Hierdie aanleg is in die 2017/2018-boekjaar opgegradeer. Die koste het R20 miljoen beloop. Die opgradering het agt maande geduur, maar vandag is daar nie eens 'n heining te sien nie.
Verskeie huishoudings waar riool deur erwe en strate vloei en dit omskep in ‘n rioolmoeras, is ook besoek.
Kleinhoewe-eienaars, aangrensend aan Jan Kempdorp, se weiding is nie meer geskik vir vee nie weens die besoedeling.
Die MRK sal nou samesprekings hou met al die rolspelers en het onderneem om die munisipaliteit te dagvaar indien hy nie opdaag om voor die kommissie te verskyn nie.
Die VF Plus sal die situasie fyn dophou om te verseker dat die Phokwane-munisipaliteit sy verpligting nakom om ‘n omgewing te skep wat nie skadelik is vir inwoners se gesondheid of welsyn nie.