Die VF Plus veroordeel die toedeling van nog ‘n reddingsboei aan Eskom terwyl daar geen werklike voorwaardes deur die staat aangaande dié redding gestel is nie. Dit beteken hierdie belastinggeld gaan ook in ‘n bodemlose put verdwyn.
Werklike fundamentele veranderinge in Eskom se finansies en operasionele bestuur is nodig om die staatsentiteit te red. ‘n Spesiale toedeling van R59miljard as reddingsboei gaan dit nie vermag nie.
Herhaaldelike begrotingstoewysings, reddingsboeie en die regering se oorname van skuld, bedreig die lewensvatbaarheid van Suid-Afrika. Die ANC is alleen verantwoordelik vir die ondergang van die kragvoorsiener terwyl die belastingbetaler die las moet dra.
Dit is die ANC wat onbevoegde raadslede en uitvoerende beamptes op grond van kaderontplooiing aangestel het. Dit is ook die ANC wat toegekyk het terwyl dié staatsentiteit gekaap en geplunder is.
Munisipaliteite onder ANC-beheer is verantwoordelik vir uitstaande skuld van miljarde rande aan Eskom
Die enigste ware uitweg vir Eskom is ‘n totaal nuwe bestuurstelsel wat privatisering moet insluit. Die ANC se alliansievennote, die vakbonde, staan egter in die pad van hierdie nodige veranderinge.
Die VF Plus sal aanhou om op die hoogte vlak te veg vir daadwerklike veranderinge by Eskom in die belang van elke persoon in Suid-Afrika.
Kontaknommer: 082 674 6670


